Genesis 38:9-15 DB

9 Onan wou nie eintlik nie. Hy het goed geweet dat elke kind wat gebore word, nie syne sou wees nie, maar aan sy broer sou behoort. Hy het toe wel ’n paar keer by Tamar gaan slaap, maar hy het elke keer sy saad op die grond laat val en nie binne-in haar nie. So het hy gesorg dat sy broer se nageslag nie uitgebou word nie.

10 Dit het die Here baie ongelukkig gemaak. Hy het Onan ook vroeg laat sterf.

11 Juda het bang geword en vir sy skoondogter gesê: “Miskien moet jy maar weer by jou pa gaan bly. Omdat jy ’n weduwee is, kan jy mos teruggaan. Wag dan daar tot my jongste, Sela, groot is.” Juda het dit gesê omdat hy bang was Sela gaan ook soos sy twee ouer broers vroeg sterf. Tamar het toe al haar goedjies gevat en is terug na haar pa toe.

12 Lank hierna is Juda se vrou, die dogter van Sua, ook dood. Toe hy klaar oor haar gerou het, is hy saam met sy vriend, Gira van Adullam, Timna toe. Hy wou gaan kyk hoe hulle met die skeer van sy skape gevorder het.

13 Iemand het egter vir Tamar gaan sê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe. Hy wil gaan kyk hoe dit met die skeerdery gaan.”

14 Tamar het vinnig opgestaan en haar donker rouklere uitgetrek. Sy het ’n sluier gevat en dit om haar gegooi sodat niemand haar kon herken nie. Toe het sy by die poort van Enaim gaan sit, want dit was op die pad na Timna toe. Sy het dit gedoen omdat sy gesien het dat Sela al groot was en hy het nog nie met haar getrou nie.

15 Toe Juda haar sien, het hy gedink sy is ’n prostituut, want haar gesig was toegemaak.