2 Haar tweede kind was ook ’n seun en sy het hom Abel genoem. Abel was ’n herder wat skape aangehou het. Kain was ’n boer wat die aarde bewerk het.
3 Op ’n dag het Kain ’n offer vir die Here gebring. Hy het van die produkte van die land geneem en dit vir die Here geoffer.
4 Abel het dieselfde gedoen. Hy het van die lammers gevat en hulle vet vir die Here geoffer. Die Here het baie van Abel se offer gehou.
5 Maar Hy het nie Kain en sy offer aanvaar nie. Kain was woedend hieroor. Hy het moedeloos geraak.
6 Die Here het toe vir Kain gesê: “Hoekom is jy so kwaad en terneergedruk?
7 As jy reg lewe, sal jou offer mos aanvaar word. Maar as jy nie reg lewe nie, vind jy uit dat sonde soos ’n wilde dier is wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet. Jy kan hom egter oorwin.”
8 Kain het toe vir sy broer, Abel, gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle buite kom, het Kain vir Abel gegryp en hom doodgeslaan.