10 “Op ’n keer was die koning vir my en die hoofbakker kwaad en het ons albei in die tronk gestop.
11 “Een aand het ek en die hoofbakker elkeen ’n droom gehad. Twee aparte drome met twee aparte betekenisse.
12 Saam met ons in die tronk was daar ’n jong Hebreër. Hy het die hoof van die tronkbewaarders met allerlei takies gehelp. Toe ons hom van die drome vertel, het hy dit sommerso uitgelê. Elkeen se droom het hy vir hom uitgelê.
13 En presies soos hy gesê het, het dit toe gebeur. Ek het weer my ou pos teruggekry, maar die bakker is opgehang.”
14 Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat.
15 Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.”
16 “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.”