11 Uiteindelik het Jakob gesê: “Goed, dan moet julle hom maar saamvat. Maar vat ook vir die man in Egipte van ons beste produkte saam. Sit ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels in julle graansakke. En gee dit vir die man as ’n geskenk.
12 Vat ook genoeg geld saam. Al die geld wat bo in julle graansakke was, moet julle teruggee. Dit was ’n fout.
13 Neem dan nou julle broer, vertrek onmiddellik en gaan reguit na die man toe terug.
14 Mag die groot en almagtige God so vir julle sorg dat die man in Egipte net deernis vir julle sal hê. En mag hy julle broer Simeon vrylaat en hom saam met Benjamin terugstuur. Moenie julle oor my bekommer nie, want as ek moet swaarkry, moet ek swaarkry.”
15 Die mans het die geskenk, dubbel soveel geld en vir Benjamin geneem en hulle is reguit na Josef toe in Egipte.
16 Toe Josef hulle saam met Benjamin sien, het hy vir die hoof van sy huis gesê: “Laat die mense inkom en in die huis bly. Slag dan ’n dier en maak vir ons lekker kos, want ons eet vanmiddag saam.”
17 Die hoof van die huis het presies gemaak soos Josef gesê het en hy het die broers huis toe geneem.