17 Die hoof van die huis het presies gemaak soos Josef gesê het en hy het die broers huis toe geneem.
18 Die broers was baie agterdogtig en het vir mekaar gesê: “Dis seker oor die geld wat in ons graansakke was dat hulle ons uitgenooi het. Hulle wil ons natuurlik terugkry; daarom het hulle ons in hierdie hinderlaag gelei. Hulle sal ons oorval, slawe van ons maak en al ons diere vat.”
19 Toe het die broers na die huis se ingang gestap en daar met die hoof van Josef se huis begin praat.
20 “Meneer, miskien kan u ons help,” het hulle gesê. “Ons was ’n vorige keer ook hier om kos te koop.
21 Op pad terug het ons by die nagkamp ons graansakke oopgemaak en tot ons groot verbasing gesien dat elkeen se geld bo-op lê. Die presiese bedrag wat elkeen bestee het. Ons het vandag gekom om hierdie geld vir u terug te gee.
22 Natuurlik het ons ook ander geld saamgebring waarmee ons kos wil koop. Meneer, ons weet regtig nie wie die geld in ons sakke gesit het nie.”
23 “Alles is reg,” het die hoof gesê, “moenie bang wees nie. Al die geld wat julle moes betaal het, het ek gekry. Elke sent daarvan. Dalk was dit julle God en die God van julle pa wat die geld in julle sakke gesit het.” En hy het Simeon gaan haal en hom vir sy broers teruggegee.