22 Natuurlik het ons ook ander geld saamgebring waarmee ons kos wil koop. Meneer, ons weet regtig nie wie die geld in ons sakke gesit het nie.”
23 “Alles is reg,” het die hoof gesê, “moenie bang wees nie. Al die geld wat julle moes betaal het, het ek gekry. Elke sent daarvan. Dalk was dit julle God en die God van julle pa wat die geld in julle sakke gesit het.” En hy het Simeon gaan haal en hom vir sy broers teruggegee.
24 Die hoof het die broers in Josef se groot huis ingenooi en hulle ’n plek gegee waar hulle kon was en ontspan. Hy het ook vir hulle donkies kos gegee.
25 Ondertussen het die broers verneem dat hulle die middag saam met Josef moet eet. Terwyl hulle vir hom gewag het, het hulle solank die geskenke reggesit.
26 Toe Josef uiteindelik opdaag, het hulle laag voor hom gebuig en die geskenke vir hom gegee.
27 Josef het gehoor hoe dit gaan en toe gevra: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle my die vorige keer vertel het? Leef hy nog?”
28 Hulle het gesê: “Dit gaan goed met u kneg, ons pa. Hy leef nog en hy is baie gesond.” Die broers het gekniel en voor Josef gebuig.