11 Elkeen het toe vinnig sy sak van die donkies afgehaal en dit oopgemaak.
12 Josef se huisheer het toe sak vir sak ondersoek, van die oudste broer se sak tot dié van die jongste. En die beker is in Benjamin se sak gekry.
13 Die broers het uit wanhoop en frustrasie hulle klere begin skeur. Toe het hulle die donkies gepak en is terug stad toe.
14 Toe Juda en sy broers weer by Josef se huis aankom, was hy nog steeds daar. Hulle het voor hom op die grond geval.
15 Josef het vir hulle gesê: “Julle het ’n verskriklike ding gedoen. Ek het die beker nodig om in die toekoms in te kyk en toe loop steel julle dit.”
16 Juda het geantwoord: “Wat kan ons tog sê, Meneer? Ons is sprakeloos. Hoe kan ons ons onskuld bewys? God straf ons nou vir ’n misdaad van lank gelede. Hier is ons dan, Meneer. Ons sal almal hier bly en vir u werk, en nie net die een in wie se sak die beker gekry is nie.”
17 “Glad en geheel nie,” het Josef gesê. “Slegs die een wat die beker gesteel het, moet my slaaf word. Die res van julle kan maar na julle pa toe teruggaan. Niemand sal julle ook meer op die pad hinder nie.”