16 Juda het geantwoord: “Wat kan ons tog sê, Meneer? Ons is sprakeloos. Hoe kan ons ons onskuld bewys? God straf ons nou vir ’n misdaad van lank gelede. Hier is ons dan, Meneer. Ons sal almal hier bly en vir u werk, en nie net die een in wie se sak die beker gekry is nie.”
17 “Glad en geheel nie,” het Josef gesê. “Slegs die een wat die beker gesteel het, moet my slaaf word. Die res van julle kan maar na julle pa toe teruggaan. Niemand sal julle ook meer op die pad hinder nie.”
18 Toe het Juda opgestaan en gepraat: “Ek smeek u, Meneer, luister na my. Ek wil u graag iets vertel. U is net soos die farao en ’n baie belangrike man, maar u moet tog nie nou kwaad of ongeduldig word nie.
19 Toe ons die eerste keer hier was, het u ons gevra of ons ’n pa het of nog ’n ander broer.
20 Ons het gesê dat ons wel ’n pa het en dat hy al oud is. Ons het u ook van ’n jonger broertjie vertel wat ons pa op sy oudag gekry het. En toe het ons ook gesê die jongste se enigste broer is ’n lang ruk al dood. Hulle twee was die enigste kinders van hulle ma en ons pa was baie lief vir die jongste.
21 U het toe vir ons gesê: ‘Gaan haal die jongste dat ek kan sien hoe hy lyk.’
22 Ons het vir u gesê dit is onmoontlik; die seun kan nie van sy pa af weggaan nie, het ons gesê, sy pa sal doodgaan as daar iets met hom moet gebeur.