1 Josef kon dit nie meer langer hou nie en het vir die ander gesê om uit te gaan. Niemand anders was by nie toe Josef begin praat.
2 Na ’n paar woorde het hy in trane uitgebars. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het. Selfs die mense in die farao se huis het dit gehoor.
3 Na ’n ruk het hy weer probeer: “Ek is Josef! Leef Pa werklik nog en is dit waar dat hy nog gesond is?” Sy broers was totaal en al stomgeslaan.
4 “Kom ’n bietjie nader,” het hy vir hulle gesê. Stadig en bang het hulle nader geskuifel. Toe het hy weer gepraat: “Ek is julle broer Josef. Julle onthou nog die dag toe julle my verkoop het?
5 Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help.
6 Twee verskriklike jare van hongersnood is al verby en vyf moeilike jare lê nog voor. Niemand sal op die lande werk nie en daar sal ook geen oes wees nie.