5 Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help.
6 Twee verskriklike jare van hongersnood is al verby en vyf moeilike jare lê nog voor. Niemand sal op die lande werk nie en daar sal ook geen oes wees nie.
7 God het my solank Egipte toe gestuur sodat ek vir julle kos kon bêre. So kon julle en ook Pa eet en bly leef. Hoe wonderlik werk die Here tog nie!
8 My broers, dit is nie julle wat my hierheen laat kom het nie, maar God. Hy het my Egipte toe laat kom om vir die farao amper soos ’n pa te wees. Hy het my toe die hoof van sy hele administrasie gemaak en my oor die hele land laat regeer.
9 Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: U seun Josef sê: Pa, ek leef nog! God het my oor die hele Egipte aangestel en ek wil hê Pa moet onmiddellik na my toe kom.
10 Ek wil hê Pa moet sommer hier naby my by ’n plek wat ons Gosen noem, kom bly. Al Pa se kinders en kleinkinders moet saamkom. En bring ook al die vee en alles wat Pa besit saam.
11 Hierdie hongersnood het nog skaars begin en dit sal nog vyf jaar aanhou, maar ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’