18 Die volgende jaar het dit nog slegter gegaan en die mense het vir Josef gesê: “Meneer, ons kan dit nie meer wegsteek nie en daarom wil ons eerlik vir Meneer sê dat ons niks het nie. Al ons geld is op en al ons vee behoort aan u. Al wat ons nou nog het, is ons liggame en ons grond.
19 Meneer, moet tog nie dat ons van die honger doodgaan nie. En moet tog nie dat ons landerye onbewerk en vol onkruid lê nie. Koop dan liewer vir ons en ons landerye en betaal ons met kos. Ons kan maar die koning se werkers word en hy kan maar ons grond besit. As Meneer net vir ons saad kan gee, sal ons bly leef en ons grond sal ook nie verwoes word nie.”
20 Josef het al die grond in Egipte vir die koning opgekoop. Omdat die hongersnood so groot was, het die Egiptenaars geen ander keuse gehad as om hulle grond te verkoop nie. Al die grond het toe die koning se eiendom geword.
21 Al die mense van Egipte het toe die koning se slawe geword.
22 Slegs die priesters se grond het Josef nie opgekoop nie. Hulle het ’n toelaag en kos van die koning ontvang en dit was nie nodig om hulle grond te verkoop nie.
23 Josef het vir die mense gesê: “Ek het julle en al julle grond vir die koning opgekoop. Hier is saad waarmee julle julle landerye kan bewerk.
24 Wanneer die oestyd kom, moet julle ’n vyfde daarvan vir die koning gee. Die res is julle s’n. Julle kan dit as saad gebruik of vir julle gesinne en veral vir die kinders kos maak daarvan.”