23 Josef het vir die mense gesê: “Ek het julle en al julle grond vir die koning opgekoop. Hier is saad waarmee julle julle landerye kan bewerk.
24 Wanneer die oestyd kom, moet julle ’n vyfde daarvan vir die koning gee. Die res is julle s’n. Julle kan dit as saad gebruik of vir julle gesinne en veral vir die kinders kos maak daarvan.”
25 Hulle het geantwoord: “Meneer, u was baie goed vir ons en u het ons lewe gered. Ons sal graag vir die koning wil werk.”
26 Josef het dit ’n landswet gemaak dat ’n vyfde van die oes aan die koning behoort. Dit is vandag nog in Egipte so. Net die priesters se tempelgronde het nie die koning se eiendom geword nie.
27 So het Jakob en al sy mense toe in Egipte gaan woon. Hulle het in Gosen gebly en baie grond en diere gekoop. In die nuwe land het hulle kort voor lank ’n groot klomp mense geword.
28 Jakob het nog sewentien jaar in Egipte geleef. Hy het 147 jaar oud geword.
29 Toe Jakob naby sy einde was, het hy Josef laat roep. “Josef,” het hy gesê, “as jy my werklik gelukkig wil maak, moet jy my iets beloof. Kom, sit jou hand hier op my heup en gee my jou woord dat jy my nie in Egipte sal begrawe nie. As jy dit beloof, sal dit vir my ’n teken van jou liefde vir my wees.