7 Toe het Josef Jakob laat binnekom en hom aan die koning voorgestel. Jakob het voor hom gebuig en die koning gegroet.
8 “Hoe oud is jy, Jakob?” het die koning gevra.
9 “Ek is al 130 jaar oud, U Majesteit,” het Jakob geantwoord. “Dit is eintlik nie oud nie. In vergelyking met my voorvaders is my jare maar min. My lewe was egter hard en vol swaarkry.”
10 Na ’n ruk het Jakob die koning gegroet en vertrek.
11 Josef het sy pa en broers gehelp om in Egipte gevestig te raak. Hy het hulle in Ramses, die beste deel van Gosen, laat woon en toegesien dat hulle grondregte besit. En hy het gemaak soos die koning gesê het.
12 Hy het ook elke dag vir hulle gesorg. Daar was genoeg vir almal. Van die oudste tot die jongste het kos gehad.
13 Intussen het die hongersnood so erg geword dat daar nêrens meer kos te koop was nie. Die mense van Egipte en Kanaän het al hoe swakker van die honger geword.