15 Jakob het Josef toe geseën: “Mag die God vir wie Abraham en Isak baie lief was, naby aan hierdie twee seuns wees. En mag die God wat altyd by my was en my in alles gehelp het, julle gelukkig maak.
16 “Mag die God wat my altyd uit alle gevare gered het, by julle wees. Mag my naam en die geloof van Abraham en Isak in hierdie twee seuns voortleef. Mag hulle baie kinders en ’n groot nageslag hê.”
17 Josef was omgekrap toe hy sien sy pa het sy regterhand op Efraim se kop gesit. Hy het sy pa se hand gevat, dit op Manasse se kop gesit en toe gesê:
18 “Nee, Pa, nie so nie. Manasse is mos die oudste. Sit nou Pa se hand op sy kop.”
19 Halfkwaad het Jakob gesê: “Ek weet, my seun, ek weet wat ek doen. Manasse se kinders sal inderdaad ’n groot nasie word, maar Efraim, sy jonger broer, sal die grootste wees en sy nageslag die belangrikste, ’n groot nasie.”
20 Met hierdie woorde het Jakob sy kleinseuns geseën. “Omdat dit met julle twee goed sal gaan,” het hy verder gesê, “sal dit ook met die hele Israel goed gaan. As mense mekaar groet, sal hulle sê: ‘Ek hoop dit gaan met jou so goed soos met Efraim en Manasse.’” Jakob het Efraim belangriker geag as Manasse.
21 Jakob het toe na Josef toe gedraai en gesê: “Soos jy sien, is ek besig om te sterf. Moenie bang wees nie, want die Here is met jou. Eendag sal Hy jou na die land van jou eie mense terugneem.