2 Toe hulle vir Jakob sê dat Josef-hulle daar is, was Jakob so bly dat hy sommer sterk gevoel en regop in die bed gesit het.
3 Jakob het weer vir Josef sy lewensverhaal vertel. “Lank gelede,” so het Jakob begin, “het die almagtige God na my toe gekom in Lus (dit is Bet-El), in die land Kanaän. Daar het Hy my geseën en wonderlike dinge vir my gesê.
4 Hy het beloof dat ek ’n groot nageslag sal hê en dat hulle uit verskillende volke sal bestaan. Verder het Hy gesê dat my nageslag nog eendag in die land Kanaän sal woon en dat hulle die land vir altyd sal besit.
5 Hierdie twee seuns van jou, Efraim en Manasse, wat in Egipte gebore is lank voordat ek hier aangekom het, sal soos my eie kinders wees. Net soos Ruben en Simeon my eie kinders is, sal jou twee seuns ook myne wees.
6 Jou seuns wat na hulle twee gebore is, sal joune wees en hulle sal deel van Efraim en Manasse se stamme wees en in hulle erfenis deel.
7 Ek sal jou twee seuns seën ter wille van jou ma, Ragel. Sy is destyds op pad van Paddan-Aram af na Kanaän toe dood, tot my groot verdriet. Net duskant Efrata (wat ons vandag Betlehem noem) is sy dood en ek het haar daar langs die pad begrawe.”
8 Jakob het dofweg twee seuns langs Josef gesien en gevra: “Wie is die seuns daar langs jou?”