24 Hy roep toe al die manskappe nader en sê vir sy offisiere: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke as teken dat hulle verslaan en verneder is.” Die offisiere het dit toe gedoen.
25 Toe sê Josua vir hulle: “Moenie bang of bekommerd wees nie. Maar wees sterk en vasberade, want dit is presies wat die Here vorentoe met al julle vyande gaan doen.”
26 Daarna het Josua die konings doodgemaak, elkeen van hulle aan ’n boom laat ophang en hulle daar laat hang tot die aand toe.
27 Met sononder is hulle op Josua se bevel van die bome afgehaal en in die grot gegooi waarin hulle vroeër weggekruip het. Die ingang van die grot is toe met groot klippe toegepak as ’n blywende herinneringsteken.
28 Daardie selfde dag het Josua Makkeda ook ingeneem en verwoes. Hy het die mense en hulle koning doodgemaak. Alles in die stad is uitgeroei. Daar het niks oorgebly nie. Die koning van Makkeda is, net soos die koning van Jerigo, ook doodgemaak.
29 Van Makkeda af is Josua en sy soldate na Libna toe en het dié ook aangeval.
30 Die Here het ook vir Israel ’n oorwinning oor hierdie stad laat behaal. Hulle het niemand se lewe gespaar nie. Ook die koning van Libna is doodgemaak.