1 Die gebied wat die kinders van Josef gekry het, het gestrek van die Jordaan af naby Jerigo, by ’n punt oos van Jerigo naby die fonteine waar Jerigo se drinkwater vandaan gekom het. Van daar af loop die grens deur die woestyn in die bergagtige gebiede in tot so ver as Bet-El.
2 Van Bet-El af loop dit na Lus toe en dan oor die grondgebied van die Erekiete tot by Atarot.
3 Hiervandaan gaan dit weswaarts af na die grens van die Jafletiete toe tot so ver as Bet-Goron-Onder en dan oor Geser tot waar dit doodloop teen die Middellandse See.
4 Die families van Josef se seuns, Manasse en Efraim, het hierdie gebied gekry.
5 Efraim se stamgebied het gestrek vanaf Atrot-Addar in die ooste tot by Bet-Goron-Bo
6 en van daar af tot by die Middellandse See. Van Mikmetat af in die noorde swaai die grens ooswaarts verby Taänat-Silo na Janoag in die ooste toe.
7 Van Janoag af draai dit suid in die rigting van Atarot en Naära en dan teen Jerigo verby tot by die Jordaan.
8 Van Tappuag af loop die grens wes, al met die Kanaspruit langs tot by die Middellandse See. Dit was die gebied wat aan Efraim se nageslag behoort het.
9 Hulle het ook ’n aantal dorpe en stede binne die grondgebied van Manasse gekry.
10 Hulle het nie die Kanaäniete uit Geser uit verdryf nie, maar hulle toegelaat om tussen hulle te bly woon en hulle as dwangarbeiders vir hulle laat werk.