Josua 22 DB

Josua stuur die stamme van Ruben, Gad

1 Daarna het Josua die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam nader geroep.

2 Toe sê hy: “Julle het alles gedoen wat Moses gevra het julle moet doen en julle het al my opdragte uitgevoer.

3 Julle het nie julle broers in die steek gelaat nie, al het die inname van die land so lank geneem. Julle het elke opdrag van die Here julle God nagekom.

4 Nou het die Here julle God sy belofte aan julle broers nagekom en hulle bly in vrede in hulle land. Julle kan nou teruggaan na julle eie land toe wat Moses vir julle gegee het, daar aan die oostekant van die Jordaan.

5 Maar maak seker dat julle die gebooie en die wet wat Moses vir julle gegee het, nakom. Julle moet die Here julle God liefhê, volgens sy wil lewe, sy opdragte uitvoer, getrou wees aan Hom en Hom dien met alles binne-in julle.”

6-8 Toe het Josua hulle met sy seën huis toe gestuur en gesê: “Julle gaan as ryk mense huis toe met baie vee, silwer, goud, brons, yster en mooi klere. Gaan deel hierdie rykdom met julle broers wanneer julle by die huis kom.” Hulle is toe daar weg huis toe. Moses het mos die gebied oos van die Jordaan vir die een helfte van die Manassestam gegee en Josua die deel aan die westekant vir die ander helfte.

9 Die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het die Israeliete by Silo in Kanaän agtergelaat en die terugtog aangepak na hulle eie gebied toe in Gilead. Hierdie gebied het aan hulle behoort, soos die Here vroeër vir Moses gesê het.

Die omstrede altaar by die Jordaan

10 Voordat die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam die Jordaan oorgesteek het, het hulle ’n groot en indrukwekkende altaar by Gelilot in Kanaän gebou.

11 Toe die res van die Israeliete hoor dat hierdie stamme ’n altaar by Gelilot aan die westekant van die Jordaan in Kanaän gebou het,

12 het hulle almal by Silo bymekaargekom en gereedgemaak om teen hulle broers aan die oostekant te gaan oorlog maak.

13 Maar voordat hulle iets verder gedoen het, het hulle eers ’n afvaardiging onder aanvoering van Pinehas die seun van die priester Eleasar na die stamme in Gilead toe gestuur.

14 Saam met hom was daar ook tien leiers van die volk, een uit elke stam, elkeen ’n hoof van ’n familiegroep.

15 Met hulle aankoms in Gilead het hulle vir die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam gesê:

16 “Ons praat namens die hele gemeente van die Here. Hoekom was julle ontrou aan die God van Israel? Toe julle die altaar gebou het, het julle die rug vir die Here gedraai en teen Hom in opstand gekom!

17 Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Daar het die Here sy eie volk met ’n epidemie getref en ons dra tot vandag toe nog die gevolge daarvan.

18 En wat doen julle nou? Julle draai sowaar die rug vir die Here! Besef julle nie dat as julle vandag teen die Here in opstand kom Hy môre vir ons almal wat sy volk is, kwaad sal wees nie?

19 As julle gebied nie geskik is om in te aanbid nie, kom dan oor na ons kant toe waar die Here se tent staan. Dit is die teken van sy teenwoordigheid by ons. Op daardie plek aanbid ons Hom. En as julle grond nodig het om op te kom bly, is ons bereid om met julle te deel. Moet asseblief net nie in opstand kom teen die Here en ons dan ook daarby betrek deur ’n ander altaar te bou nie. Julle weet mos daar kan net een ware altaar vir die Here ons God wees.

20 Onthou julle wat gebeur het toe Akan die seun van Serag hom vergryp het aan dit wat aan die Here gewy was? Die hele volk het daaronder gely. Dit was nie net hy wat gesterf het oor sy sonde nie!”

21 Hierop het die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam vir die leiers van die volk gesê:

22 “Die Here alleen is God! Die Here alleen is God! Die Here weet waarom ons dit gedoen het en ons wil hê julle moet ook weet. As ons dan ontrou was en teen die Here in opstand gekom het, moet julle ons dadelik doodmaak.

23 As ons teen die Here in opstand gekom het en ons eie altaar gebou het waarop ons brandoffers of graanoffers of vredesoffers wou bring, mag die Here dan self van ons rekenskap eis.

24 Maar nee, dit was uit besorgdheid dat ons dit gedoen het. Ons was bang dat julle kinders dalk in die toekoms vir ons s’n sou sê: ‘Wie gee julle die reg om die Here die God van Israel te aanbid?

25 Die Here self het tog die Jordaan as ’n duidelike grens tussen ons en julle gestel. Julle het niks met die Here te doen nie.’ Dit kon dalk tot gevolg hê dat ons kinders nie meer die Here wou aanbid nie.

26 Daarom het ons besluit om die altaar te bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie,

27 maar as ’n getuienis. Dit moet ons en julle kinders daaraan herinner dat ons inderdaad ook die Here dien met ons brandoffers en slagoffers en vredesoffers. Dan kan julle kinders nie dalk vir ons s’n sê: ‘Wat het julle met die Here te doen?’ nie.

28 Dit was die hele idee daaragter. Want dan sou ons kinders vir julle s’n kon sê: ‘Kyk, hier is ’n afbeelding van die Here se altaar wat ons ouers gemaak het. Dit is nie bedoel vir brandoffers of slagoffers nie, maar as ’n bewys dat ons dieselfde Here dien.’

29 Dit was glad nie ons idee om teen die Here in opstand te kom of die rug vir Hom te draai deur ons eie altaar vir brandoffers en spysoffers en slagoffers te bou nie. Ons weet daar is net een altaar wat hiervoor gebruik kan word, en dit is die een by die tabernakel, die altaar van die Here ons God!”

30 Toe die priester Pinehas en die ander leiers van die volk wat saam met hom daar was, dié woorde hoor, het dit hulle gerusgestel.

31 Toe sê Pinehas die seun van die priester Eleasar vir die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam: “Nou weet ons die Here is by ons. Julle was nie ontrou aan die Here nie en het nie teen Hom in opstand gekom soos ons gedink het nie. Inteendeel, julle het juis gekeer dat die Here die Israeliete straf.”

32 Hiermee is Pinehas die seun van die priester Eleasar en die ander leiers van die volk uit Gilead weg, terug Kanaän toe om aan die Israeliete te gaan rapporteer.

33 Die Israeliete was tevrede met wat hulle gehoor het en hulle het God geloof. Hiermee was al hulle oorlogspraatjies ook op ’n end.

34 Die mense van Ruben en Gad het die altaar “Getuie” genoem, “want,” het hulle gesê, “dit dien as getuie dat die Here God is.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24