Josua 9 DB

Josua word deur die mense van Gibeon bedrieg

1-2 Toe die konings wes van die Jordaan - dié in die berggebiede en die laeveld en al langs die kus van die Middellandse See af tot so ver noord as by die Libanonberg - van Josua se oorwinnings hoor, het hulle hulle magte saamgesnoer om teen Josua en die Israeliete te veg. Hierdie konings was die leiers van die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

3 Die inwoners van Gibeon het gehoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het

4 en hulle het besluit om hom om die bos te lei. Hulle het vir hulle padkos ingepak en ou, stukkende saalsakke op hulle donkies gesit en ook gehawende en gelapte wynsakke uitgesoek.

5 Hulle het hulle oudste klere en stukkende skoene aangetrek. Die brood wat hulle as padkos saamgevat het, was al kliphard en uitgedroog.

6 So is hulle toe daar weg Gilgal toe, waar die Israeliete se kamp was. Daar aangekom, sê hulle vir Josua: “Ons kom uit ’n ver land om julle te vra om met ons ’n ooreenkoms aan te gaan.”

7 Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete van afkoms was, gesê: “Ons is nie seker of ons ’n ooreenkoms met julle moet sluit nie. Wie sê julle bly nie sommer hier naby ons nie?”

8 Hierdie Gibeoniete sê toe vir Josua: “Ons sal julle onderdane wees.”“Wie is julle en waar kom julle vandaan?” wou hy dadelik weet.

9 Toe vertel hulle hom hierdie storie: “Ons kom van ’n baie ver land af na julle toe. Ons het gehoor van die groot dinge wat die Here julle God gedoen het. Ons weet wat in Egipte gebeur het

10 en ook wat Hy met die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan gedoen het: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan, wat in Astarot gebly het.

11 Daarom het ons leiers en ons mense vir ons gesê: ‘Vat vir julle padkos vir ’n lang reis en gaan praat met hierdie mense. Sê vir hulle dat ons bereid is om hulle dienaars te wees. Vra hulle om ’n ooreenkoms met julle te sluit om in vrede saam te leef.’

12 Kyk na ons padkos. Toe ons van ons huise af weg is na julle toe, was ons brood nog warm, so vars was dit. Maar kyk nou, nou is dit kliphard en verdroog!

13 Kyk na ons wynsakke. Hulle was nuut toe ons hulle volgemaak het en nou is hulle vol barste. En sien julle hoe gehawend is ons klere en ons skoene? Dit is omdat ons so ver moes kom.”

14 As ’n teken van vriendskap het die Israeliete toe saam met die Gibeoniete van hulle padkos geëet. Ongelukkig het hulle nie die Here daaroor geraadpleeg nie.

15 Josua het ’n vredesverdrag met hulle gesluit. Die leiers van die volk het dit amptelik onderskryf.

16 Drie dae nadat die ooreenkoms gesluit is, het die Israeliete uitgevind dat die Gibeoniete eintlik baie naby bly, sommer daar in dieselfde omgewing.

17 Die Israeliete is onmiddellik daar weg om te gaan ondersoek instel. Na drie dae het hulle by die stede van die Gibeoniete aangekom: Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18 Die Israeliete het hulle egter nie aangeval nie, omdat hulle leiers ’n eed in die Naam van die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê het. Hieroor was die volk ontsteld en het by die leiers gekla.

19 Maar die leiers van Israel het gesê: “Ons het ’n eed voor die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê. Ons mag nou niks aan hulle doen nie.

20 Ons moet hulle laat lewe, anders sal ons gestraf word omdat ons nie ons belofte gehou het nie.

21 Laat hulle lewe. Maar ons het ’n ander voorstel. Hulle sal vir die res van hulle lewe vir ons moet water aandra en hout kap vir ons om te gebruik.”

22 Toe laat roep Josua die mense van Gibeon en vra hulle: “Hoekom het julle ons bedrieg deur te sê julle bly ver van ons af terwyl julle geweet het dit is nie waar nie?

23 As gevolg daarvan rus daar nou ’n vonnis op julle. Julle sal vir altyd diensknegte wees wat moet sorg dat daar genoeg hout en water vir die huis van my God is.”

24 Hulle antwoord Josua: “Ons het dit gedoen, want van alle kante af het ons gehoor wat die Here julle God vir sy dienaar Moses gesê het. Hy het gesê dat Hy hierdie land vir julle as ’n besitting gee en dat julle al die inwoners daarvan moet uitroei. Daarom het ons julle bedrieg, want ons was bang julle maak ons ook dood.

25 Ons is nou aan jou genade oorgelaat. Jy moet maar met ons doen wat jy dink is reg.”

26 Josua het toe besluit om hulle nie dood te maak nie, aangesien hy nie die ooreenkoms met hulle wou verbreek nie.

27 Maar hy het hulle van toe af baie hard vir die Israeliete laat werk. Hulle moes hout en water aandra vir die volk en later ook vir die altaar van die Here nadat Hy besluit het waar dit gebou moes word. Dit sou in die toekoms hulle werk bly.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24