1 Die ander helfte van die stam van Manasse het toe hulle erfdeel gekry. Manasse was immers Josef se oudste seun. Makir, Manasse se oudste seun, die pa van Gilead, was ’n goeie soldaat en hy het reeds die gebiede van Gilead en Basan aan die oostekant van die Jordaan gekry.
2 Die res van die families van die Manassestam, Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida, het nou hulle deel ontvang. Hulle was almal manlike afstammelinge van Manasse en familiehoofde.
3 Selofgad het nie seuns gehad nie, maar wel vyf dogters: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Selofgad se voorouers se name was Gefer, Gilead, Manasse en Makir.
4 Selofgad se dogter het toe na die priester Eleasar, Josua en die leiers van die volk toe gegaan en vir hulle gesê: “Die Here se opdrag aan Moses was dat hy vir ons grond moes gee tussen ons familie.” Josua het toe vir hulle hulle erfdeel tussen hulle familie gegee, presies soos die Here beveel het.
5 Daarom het Manasse tien dele gekry, bo en behalwe Gilead en Basan aan die oostekant van die Jordaan,
6 want sy dogters het, net soos sy seuns, ’n deel van die land as besitting ontvang. Gilead het aan die res van die manlike afstammelinge van Manasse behoort.
7 Manasse se gebied strek van Aser af tot by Mikmetat, oos van Sigem. Van daar af loop die grens suid en sluit ook die gebied in waar die mense van En-Tappuag gebly het.
8 Die streek van Tappuag het aan Manasse behoort, maar die dorp Tappuag self, wat op die grens van Manasse se gebied was, het aan Efraim se kinders behoort.
9 Van daar af loop die grens af na die spruit Kana toe. Die stede aan die suidekant van die rivier het egter aan Efraim behoort, alhoewel hulle in die gebied van Manasse geval het. Manasse se grens het die noordelike oewer van dié spruit in ’n westelike rigting gevolg tot waar dit in die Middellandse See uitgemond het.
10 Die gebied aan die suidekant van die kloof het aan Efraim behoort en die gebied noord daarvan aan Manasse, met die Middellandse See as die wesgrens. In die noordweste het Manasse aan Aser gegrens en in die noordooste aan Issaskar.
11 Manasse het ook ’n paar dorpe met hulle omliggende dorpe in die gebiede van Issaskar en Aser besit: Bet-San, Jibleam, Dor, Endor, Taänak en Megiddo.
12 Die mense van Manasse kon egter nie die inwoners van hierdie dorpe uit hulle dorpe verdryf kry nie; daarom het die Kanaäniete daar bly woon.
13 Later, toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete toegelaat om steeds in hierdie stede te bly, maar hulle verplig om as dwangarbeiders vir hulle te werk.
14 Die afstammelinge van Josef het ook met Josua gaan praat en vir hom gesê: “Hoekom het jy vir ons net een deel van die hele land gegee om in te bly? Besef jy nie dat die Here ons geseën het en dat ons ’n baie groot groep mense is nie?”
15 “Wel,” sê Josua toe vir hulle, “as die bergagtige gebied van Efraim te klein is vir julle, is daar niks wat julle verhinder om die beboste gebiede van die Feresiete en die Refaïete vir julleself in te neem, dit te ontbos en daar te gaan bly nie.”
16 “Die bergagtige gebied is beslis te klein vir ons,” het hulle geantwoord, “maar die probleem is dat die Kanaäniete wat in die vlaktes bly, almal ysterstrydwaens het waarmee hulle oorlog maak. Dit geld nie net die Kanaäniete wat in Bet-San en die omringende dorpies bly nie, maar ook dié wat op die Jisreëlvlakte bly.”
17 Hierop sê Josua toe vir die stamme van Efraim en Manasse: “Julle is inderdaad ’n groot en sterk groep mense. Daarom sal julle meer as een deel kry.
18 Die bosdele van die bergagtige gebied behoort ook aan julle. Ontbos soveel daarvan as wat julle wil en gaan woon daar. Wat die Kanaäniete betref, ek weet hulle is sterk en hulle het ysterstrydwaens, maar ek is seker dat julle sterk genoeg is om hulle uit die gebied uit te verdryf.”