1 Israel was ontrou aan die Here se bevel dat alles in Jerigo aan Hom geoffer moes word. ’n Man met die naam Akan het van die goed wat aan die Here geoffer moes word, vir homself gevat. Dit het die Here baie kwaad gemaak. Akan was die seun van Karmi en die kleinseun van Sabdi uit die familie van Serag wat deel was van die stam van Juda.
2-3 Josua het van sy manne uit Jerigo uit na Ai toe gestuur, ’n stad oos van Bet-El, naby die dorp Bet-Awen, met die opdrag om die omgewing te gaan verken. Toe hulle dit gedoen het, het hulle teruggekom en vir Josua gesê: “Ai is maar ’n klein dorpie met min soldate. Dit is nie nodig om die hele leër te vat om hierdie dorpie in te neem nie; 2 000 of 3 000 soldate is genoeg.”
4 Josua stuur toe omtrent 3 000 soldate om Ai aan te val, maar hulle het hulle teen die soldate van Ai vasgeloop en moes op die vlug slaan.
5 Die soldate van Ai het hulle van die stadshekke af agtervolg tot by die steengroewe. Daar het hulle teen die afdraande omtrent 36 soldate doodgemaak. Dit het die volk se moed gebreek en hulle baie bang gemaak.
6 Josua en die leiers van die volk het hulle klere geskeur en met hulle gesig in die grond voor die verbondsark van die Here gaan lê. Hulle het tot die aand toe daar gelê met stof op hulle kop om hulle hartseer te wys.
7 Toe sê Josua: “Ag, Here, hoekom het U ons oor die Jordaan laat trek, net om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly!
8 Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug?
9 Want as die Kanaäniete en al die ander inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons totaal uitroei! Wat word dan van die eer en ontsag wat U toekom?”
10 Toe sê die Here vir Josua: “Staan op! Hoekom lê jy so met jou gesig in die grond?
11 Israel het sonde gedoen! Hulle het die ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed wat vir My opsy gesit is, vir hulleself gevat. Hulle het My besteel!
12 Dit is die rede hoekom die Israeliete nou nie hulle vyande kan wen nie. Hulle moet voor hulle uit vlug omdat hulle self nou deel geword het van die oorlogsbuit wat vernietig moet word. Ek gaan julle alleen los, tensy julle al die goed wat aan My geoffer moes word, teruggee en dit vernietig.
13 Staan op! Beveel die mense om hulleself te reinig en hulleself gereed te maak om môre voor My te verskyn. Want dit is wat Ek, die Here, die God van Israel te sê het: Julle het van die goed by julle wat Ek julle beveel het om te vernietig. Julle sal nie weerstand kan bied teen julle vyande tensy julle van hierdie goed ontslae raak nie!
14 “Môre moet julle in julle stamverband aantree. Die Here sal die stam uitwys waaraan die skuldige persoon behoort. Daardie stam moet dan aantree volgens familiegroepe en die Here sal die skuldige familiegroep uitwys. Uit hierdie familiegroepe sal die Here dan die skuldige gesin aanwys. Daarna moet die lede van die gesin een vir een na vore kom.
15 Die een wat dan uitgewys word as die een wat van die goed gevat het wat aan die Here behoort, moet met vuur verbrand word: hy, sy gesin en al sy besittings, want hy het ’n skandelike ding gedoen. Hy het my ooreenkoms met Israel verbreek.”
16 Die volgende môre vroeg het Josua die Israeliete in stamverband laat aantree. Toe is die stam van Juda uitgewys.
17 Uit die stam van Juda is die familiegroep van Serag aangewys. Uit hierdie familiegroep is die gesin van Sabdi uitgekies.
18 Toe hy die gesin van Sabdi een vir een laat verbykom, is Akan die seun van Karmi, die kleinseun van Sabdi, as die skuldige aangewys.
19 Toe sê Josua vir Akan: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my probeer wegsteek nie.”
20 “Dis waar,” het Akan gesê. “Ek het teen die Here, Israel se God, gesondig.
21 Ek het onder die buit in Jerigo ’n pragtige mantel uit Babilonië gesien en ook sowat twee kilogram silwer en ’n staaf goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek wou dit bitter graag gehad het. Daarom het ek dit maar vir my gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is dieper as die ander goed begrawe.”
22 Josua het mense gestuur om te gaan kyk of dit so is. Hulle is haastig na die tent toe. Daar aangekom, kry hulle alles net so daar begrawe, met die silwer heel onder.
23 Hulle het al die goed uit die tent gehaal en dit na Josua en die Israeliete toe gebring. Daar by die heiligdom het hulle die goed voor die Here op die grond uitgeskud.
24 Toe vat Josua vir Akan en sy kinders en sy vee en alles wat aan hom behoort het, saam met die silwer, die mantel en die goud wat hy gevat het, na die laagte van Akor toe. Die volk het saamgegaan.
25 Toe sê Josua vir hom: “Jy het hierdie ramp oor ons gebring, maar vandag bring die Here die dood oor jou!” Die volk het toe vir Akan en sy gesin met klippe doodgegooi en hulle saam met hulle besittings verbrand.
26 Hulle het ’n groot hoop klippe op hulle gestapel om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Daarna het die Here se woede bedaar. Van toe af staan die plek bekend as die Akorlaagte: die laagte van swaarkry en lyding.