12 Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense daarin uitgeroei volgens die opdrag van Moses die Here se dienaar.
13 Behalwe vir Hasor het hulle nie een van die ander ou, gevestigde stede afgebrand nie.
14 Die Israeliete het die buit en al die vee van die stede vir hulleself gevat, maar die inwoners het hulle doodgemaak.
15 Die opdragte wat die Here vir Moses sy dienaar gegee het, het Moses net so aan Josua oorgedra. Josua het dit alles stiptelik uitgevoer.
16 Josua het die hele land ingeneem: die bergagtige gebiede, die hele suidelike deel, asook die hele gebied van Gosen, die laerliggende dele, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle voetheuwels.
17-18 Die gebied het gestrek van die Kaalberg in die suide, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad, aan die voet van die berg Hermon in die Libanonvallei in die noorde. Josua was lank in ’n oorlog met die konings van hierdie gebied gewikkel, maar hy het hulle uiteindelik almal verslaan en doodgemaak.
19 Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gebly het, was daar nie een ander stad wat met die Israeliete ’n vredesverdrag gesluit het nie. Hulle is almal in gevegte verslaan.