17-18 Die gebied het gestrek van die Kaalberg in die suide, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad, aan die voet van die berg Hermon in die Libanonvallei in die noorde. Josua was lank in ’n oorlog met die konings van hierdie gebied gewikkel, maar hy het hulle uiteindelik almal verslaan en doodgemaak.
19 Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gebly het, was daar nie een ander stad wat met die Israeliete ’n vredesverdrag gesluit het nie. Hulle is almal in gevegte verslaan.
20 Die Here het toegelaat dat hulle hardkoppig bly. Hulle het toe in oorloë met die Israeliete betrokke geraak en is voor die voet vernietig, volgens die Here se opdrag aan Moses.
21 In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge van Hebron, Debir en Anab, asook in die berggebiede van Juda en Israel, uitgeroei.
22 Daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Hier en daar in die gebiede van Gasa, Gat en Asdod was daar klein groepies van hulle oor.
23 Volgens die Here se opdrag aan Moses het Josua die hele land ingeneem. Hy het dit aan die Israeliete as hulle besitting gegee deur dit gelykop onder die stamme te verdeel. Na ’n ruk was die land uiteindelik vry van oorlog.