3 Moses het reeds die gebied oos van die Jordaan aan die twee en ’n half stamme toegeken. Maar die Leviete het nie grond as ’n erfporsie gekry nie.
4 Die nageslag van Josef het twee afsonderlike stamme gevorm, naamlik Manasse en Efraim. Alhoewel die Leviete nie grond as ’n besitting gekry het nie, het hulle wel sekere dorpe gekry waarin hulle kon bly asook weiveld vir hulle vee en ander diere.
5 Die land is streng volgens die Here se opdrag aan Moses verdeel.
6 By Gilgal het ’n afvaardiging van die stam van Juda onder leiding van Kaleb die seun van Jefunne, ’n Kenassiet, na Josua toe gekom. Kaleb sê toe vir Josua: “Jy onthou mos wat die Here vir Moses, die man van God, oor my en jou gesê het daar by Kades-Barnea.
7 Ek was 40 jaar oud toe Moses die Here se dienaar my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan verken. Die verslag wat ek teruggebring het, was eerlik.
8 My medeverkenners het egter die volk bang gepraat, maar ek was getrou aan die Here my God.
9 Daarom het Moses daardie dag ’n belofte aan my gemaak: ‘Die gebied waardeur jy geloop het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort omdat jy die Here jou God met jou hele lewe vertrou het.’