10 Van Baäla af sirkel dit in ’n westelike rigting na die berg Seïr toe, oor die noordelike hang van die berg Jearim na Kesalon toe en dan af na Bet-Semes en van daar af verder na Timna toe.
11-12 Die grenslyn gaan dan verder tot by die hange van Ekron en draai dan in die rigting van Sikaron, verby Baälberg na Jabne toe, waarna dit teen die kus van die Middellandse See as wesgrens doodloop. Die families van die stam van Juda het in hierdie gebied gebly.
13 Volgens die Here se opdrag aan Josua het hy aan Kaleb die seun van Jefunne ’n gebied binne Juda se grense toegeken, naamlik Kirjat-Arba. Dit is vernoem na Arba, die voorvader van die Enakiete. Hierdie gebied staan ook bekend as Hebron.
14 Kaleb het drie van Enak se kinders, Sesai, Agiman en Talmai, uit hierdie gebied verdryf.
15 Van daar af het hy die mense van Debir aangeval. Debir was vroeër as Kirjat-Sefer bekend.
16 Kaleb het gesê: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat Kirjat-Sefer inneem en verslaan.”
17 Otniël die seun van Kaleb se broer Kenas het die stad ingeneem en so het Aksa sy vrou geword.