13 Volgens die Here se opdrag aan Josua het hy aan Kaleb die seun van Jefunne ’n gebied binne Juda se grense toegeken, naamlik Kirjat-Arba. Dit is vernoem na Arba, die voorvader van die Enakiete. Hierdie gebied staan ook bekend as Hebron.
14 Kaleb het drie van Enak se kinders, Sesai, Agiman en Talmai, uit hierdie gebied verdryf.
15 Van daar af het hy die mense van Debir aangeval. Debir was vroeër as Kirjat-Sefer bekend.
16 Kaleb het gesê: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat Kirjat-Sefer inneem en verslaan.”
17 Otniël die seun van Kaleb se broer Kenas het die stad ingeneem en so het Aksa sy vrou geword.
18 Toe Aksa met Otniël trou, het sy hom probeer oorreed om by haar pa landbougrond te vra, maar hy wou nie. Toe sy haar ouers gaan groet en Kaleb haar vra wat sy wou hê,
19 het sy geantwoord: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook as huweliksgeskenk vir my goeie waterbronne gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee.