1 Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete wat langs die Middellandse See gebly het, hoor dat die Here die Jordaan laat opdroog het sodat die Israeliete daardeur kon trek, het hulle moed in hulle skoene gesak. Hulle het baie bang geword. Hulle het nie meer moed gehad om teen die Israeliete te veg nie.
2 In daardie tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir julle messe van klip sodat julle weer die Israeliete kan begin besny.”
3 Josua het toe klipmesse laat maak en die manlike Israeliete besny. Daarom word die plek die Heuwel van die Besnydenis genoem.
4-6 Josua moes hulle besny, want toe Israel uit Egipte weg is, was al die mans reeds besny. Maar gedurende die 40 jaar wat dit hulle geneem het om deur die woestyn te trek, is nie een van die seuntjies wat toe gebore is, besny nie. Teen Josua se tyd was die Israeliete wat uit Egipte getrek het al dood omdat hulle aan die Here ongehoorsaam was. Daarom dat Hy gesê het dat hulle nie die ryk en vrugbare nuwe land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie.
7 Dit is hierdie mense se seuns wat Josua nou besny het, omdat hulle nie op pad na die Beloofde Land toe besny is nie. Hulle moes nou hulle ouers se plek volstaan.
8 Nadat die besnydenis afgehandel is, het hulle vir eers in die kamp gebly totdat hulle gesond was.
9 Toe sê die Here vir Josua: “Vandag bevry Ek julle van die vernedering wat julle beleef het as slawe in Egipte.”Daarom is die plek Gilgal genoem, die naam wat dit nog steeds het.