25-26 Josua het nie sy swaard wat hy in die rigting van Ai uitgesteek het, laat sak voordat al die inwoners daarvan vernietig is nie. Die hele bevolking van Ai, altesaam 12 000 mense, is op daardie dag uitgeroei.
27 Al wat die Israeliete vir hulleself gehou het, was die diere en die oorlogsbuit, soos die Here vir Josua beveel het.
28 Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd as ’n verlate ruïne agtergelaat.
29 Die koning van Ai het hy aan ’n boom opgehang en hom daar laat hang tot die aand toe. Met sonsondergang het hy sy soldate opdrag gegee om die liggaam te verwyder. Hulle het dit afgehaal en voor Ai se hekke neergegooi. Toe het hulle dit met klippe toegepak om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Dis vandag nog daar.
30 Hierna het Josua op die berg Ebal ’n altaar gebou vir die Here, die God van Israel.
31 Hy het die instruksies gevolg wat Moses vir die Israeliete gegee het. Dit het bepaal dat dit ’n altaar van klippe moes wees wat nie gekap of met enige instrument gevorm is nie. Op hierdie altaar het hulle vir die Here brandoffers en vredesoffers gebring.
32 Die Israeliete het toegekyk terwyl Josua ’n afskrif van die wet van Moses op ’n stel klippe neergeskryf het.