Josua 8:29-35 DB

29 Die koning van Ai het hy aan ’n boom opgehang en hom daar laat hang tot die aand toe. Met sonsondergang het hy sy soldate opdrag gegee om die liggaam te verwyder. Hulle het dit afgehaal en voor Ai se hekke neergegooi. Toe het hulle dit met klippe toegepak om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Dis vandag nog daar.

30 Hierna het Josua op die berg Ebal ’n altaar gebou vir die Here, die God van Israel.

31 Hy het die instruksies gevolg wat Moses vir die Israeliete gegee het. Dit het bepaal dat dit ’n altaar van klippe moes wees wat nie gekap of met enige instrument gevorm is nie. Op hierdie altaar het hulle vir die Here brandoffers en vredesoffers gebring.

32 Die Israeliete het toegekyk terwyl Josua ’n afskrif van die wet van Moses op ’n stel klippe neergeskryf het.

33 Die hele Israel, sowel as die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, hulle leiers, hulle beamptes en hulle regters het aan weerskante van die verbondsark gestaan, met die Levitiese priesters wat die ark gedra het, tussen hulle en die ark. Die een groep het met hulle rug na die berg Gerisim toe gestaan en die ander groep met hulle rug na die berg Ebal toe. Hulle het dit in opdrag van Moses, die Here se dienaar, gedoen sodat hulle die seën van die Here kon ontvang.

34 Daarna het Josua alles wat die wet sê, voorgelees, ook oor seëninge en strawwe, net soos dit in die wet geskryf was.

35 Josua het elke opdrag van Moses aan die hele vergadering Israeliete voorgelees. Die vroue en kinders en die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, was ook by.