Esegiël 17:12-18 DB

12 “Sê vir die mense wat teen My in opstand is: Verstaan julle nie wat Ek vir julle probeer sê met hierdie storie nie? Kom Ek verduidelik vir julle wat Ek daarmee bedoel. Die koning van Babilonië het Jerusalem verower en toe haar koning en leiers as gevangenes weggeneem na sy land, ver van Jerusalem.

13 Toe het die koning van Babilonië ’n ooreenkoms aangegaan met ’n lid van die koninklike familie wat lojaal aan hom was. Die koning het Israel se belangrikste leiers as gevangenes na sy land toe weggevat.

14 Hy het dit gedoen om te keer dat Israel weer sterk word en in opstand kom teen die Babiloniese koning. Israel kon nou slegs ’n volk bly as hy die ooreenkoms met die Babiloniese koning hou en nie weer in opstand kom nie.

15 “Maar toe gebeur dit. Hierdie man van die koninklike familie met wie die Babiloniese koning ’n ooreenkoms gesluit het, het teen die koning in opstand gekom. Hy het sy boodskappers Egipte toe gestuur en gevra dat Egipte hom moet help om in opstand te kom teen die Babiloniese koning. Hy het gevra dat die Egiptiese koning vir hom ’n groot klomp soldate en wapens stuur sodat hy die Babiloniese koning uit sy land kon verdryf. “Kan Israel sy ooreenkoms met die Babiloniese koning sommerso verbreek en dink dat hy skotvry daarvan gaan afkom?

16 Nee! So seker as wat Ek is wie Ek sê Ek is,” sê die Here, Esegiël se God, “die koning van Israel sal as ’n gevangene in Babilonië doodgaan. Hy sal doodgaan in Babilonië, die land van die koning vir wie hy sy woord gegee het dat hy nie in opstand sal kom nie. Hy het sommerso sy woord verbreek en in opstand gekom.

17 Die koning van Egipte en sy groot weermag sal niks kan doen om Israel te help nie. Die koning van Babilonië sal maar net weer teen Jerusalem optrek en die stad verslaan. En dan sal die koning van Babilonië baie mense doodmaak.

18 Want die koning van Israel het belowe dat hy nie teen die koning van Babilonië in opstand sal kom nie, maar hy het sy belofte verbreek. Daarom sal hy nie ontsnap nie.