1 Die Here het weer met my gepraat:
2 “Mens, sê vir jou mense wat Ek vir jou sê. Mense stel iemand aan wat waghou om te kyk of daar nie ’n vyand is wat die land gaan aanval nie.
3 Die man wat waghou se werk is om die volk te waarsku as hy die vyand sien aankom. Hy gee ’n teken en dan weet die volk gevaar dreig.
4 As dit nou gebeur dat die mense hoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle doen niks daaraan nie, is dit hulle eie skuld as die vyand hulle kom doodmaak.
5 Hulle het gehoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle het hulle nie aan die waarskuwing gesteur nie. Dis hulle eie skuld as die vyand hulle betrap terwyl hulle nie reg is om te veg nie. As hulle na die waarskuwing geluister het, sou hulle gereed gewees het om teen die vyand te veg. En dan sou hulle tien teen een nie dood gewees het nie.
6 Maar sê nou die man wat aangestel is om op die uitkyk te wees vir vyande doen nie sy werk nie; sê nou hy sit en slaap; of hy loop rond en doen nie sy werk nie; die vyand val die land binne, maar die man waarsku nie sy volk nie, dan is hierdie man verantwoordelik as iemand deur die vyand doodgemaak word. Die mense wat doodgemaak word, gaan dood omdat Ek hulle vir hulle slegte dade straf. Maar hierdie man sal moet betaal vir die feit dat die mense dood is, want hy het nie sy werk gedoen nie.