Esegiël 43:10-16 DB

10 “Gaan vertel vir jou volk hoe die huis van die Here lyk. Dalk kry die volk skaam as hulle hoor hoe sleg dit hier in my huis gaan. Wys hulle op ’n plan van die huis van die Here hoe dit hier lyk.

11 En as hulle dan skaam kry, vertel hulle hoe Ek my huis wil laat lyk. Vertel hulle van die ingange en uitgange van die gebou en die kamers en alles wat Ek hier wil doen. Skryf dit alles op sodat hulle nie sal vergeet nie. Hulle moet die binnekant van die huis van die Here leer ken en weet hoe ’n mens moet optree as jy in my huis kom. Hulle moet doen wat Ek hulle beveel.

12 Wat hulle moet weet, is dat die hele area waar my huis staan, op die top van die berg en die gebied daar rondom, opsy gesit is vir spesiale diens aan My. Daar mag ’n mens slegs met die dinge van die Here besig wees.”

13 So lyk die altaar. Rondom die altaar was ’n voor waarin water kon wegloop. Hierdie voor was ’n halwe meter diep en net so breed. Sy rand rondom was ’n kwart meter breed.

14 Die altaar was van die voor af na die onderste vlak ’n meter hoog. Hierdie onderste vlak was ’n halwe meter wyer as die volgende vlak. Van die onderste na die boonste vlak was die hoogte twee meter. Die heel boonste vlak was ’n halwe meter wyer as die plek waar vuur gemaak word.

15 Die plek waar vuur gemaak word, is twee meter hoog. Op die vier hoeke was daar punte wat soos ’n bees se horings gelyk het en boontoe gewys het.

16 Die plek waar die vuur gemaak word, is vierkantig en was ses meter in deursnee.