11 Naby Egipte se grens het Abram bang geword en vir sy vrou, Sarai, gesê: “Jy is ’n baie mooi vrou. Almal kan dit sien.
12 En dit is waarom ek vir die Egiptenaars bang is. As hulle jou sien, sal hulle jou wil hê. En as hulle agterkom ons is getroud, sal hulle my doodmaak, maar jou laat leef.
13 As die Egiptenaars jou uitvra, sê dan jy is my suster. Hulle sal dan vir my goed wees oor jou en my laat leef en vir jou ook. Net jy kan nog my lewe red.”
14 Abram-hulle het Egipte skaars binnegetrek of die mense sien hoe mooi Sarai is.
15 Sommige belangrike amptenare het haar ook raakgesien en vir die koning van haar vertel. Sarai is toe terstond gehaal en na die koning se huis geneem.
16 Met Abram het dit ook baie goed gegaan oor haar. Hy het vee, beeste en donkies, slawe en kamele gekry oor sy vrou Sarai.
17 Die Here het egter ingegryp. Hy wou Abram en Sarai red, en het toe groot ellendes oor die koning en sy huis laat kom.