31 Hy het ook lekker kos gemaak en dit vir sy pa gevat. Hy het ook vir sy pa gesê: “Pa, sit regop en eet die lekker wildskos wat ek vir Pa gemaak het. Daarna kan Pa my seën.”
32 Verskrik het Isak gevra: “Wie is jy dan?”Esau het geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste kind.”
33 Isak was so ontsteld dat hy baie gebewe het. “Wie,” het hy gevra, “was dan netnou hier? Die man het dan ook van die jagveld gekom en vir my wildskos gegee. Net voor jy gekom het, het ek alles klaar geëet en hom geseën. Met hom sal dit daarom altyd voorspoedig gaan.”
34 Toe Esau sy pa se woorde hoor, het hy bitterlik begin huil. Hy was geweldig hartseer en verbitterd. Na ’n ruk sê hy toe vir Isak: “Pa, asseblief, Pa, seën my ook!”
35 “Dit is alles jou slinkse broer se skuld,” het Isak bewoë gesê. “Hy het jou seën van jou af weggeruk.”
36 “Hy is niks anders as ’n bedrieër nie,” het Esau geantwoord. “Hy het my nou al twee keer bedrieg. Eers het hy my geboortereg gevat en nou my seën. Sy naam is nie verniet Jakob nie, want hy is ’n regte bedrieër.” Esau het verleë gevra: “Pa, het Pa nie dalk vir my ook ’n stukkie seën gebêre nie?”
37 Isak het Esau geantwoord: “Ek het nie iets vir jou nie, my kind. Ek het klaar gesê hy sal soos ’n ouer broer oor jou regeer en dat jou familie nog eendag vir hom sal werk. Ek het ook klaar gesê dat hy die lekker dinge van die lewe sal geniet. Wat kan ek vir jou doen, my seun?”