10 Jakob het Berseba verlaat en Haran toe gegaan.
11 Teen die aand se kant het hy by ’n plek gekom en besluit om sommer daar te oornag. Hy het een van die klippe wat daar rondgelê het, geneem en dit as kussing gebruik. Toe het hy net daar gaan lê en aan die slaap geraak.
12 Wat ’n droom het hy nie gehad nie! Daar was ’n baie lang leer, van die grond tot bo by die hemel. Die engele van God het op en af met die leer geklim.
13 Skielik het die Here daar by hom gestaan en met hom gepraat: “Jakob, Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en jou pa, Isak. Die grond waarop jy nou lê en slaap, sal Ek eendag vir jou en jou nageslag gee.
14 Jou nageslag sal so ontelbaar wees soos die stof van die aarde. Hulle sal ook oral oor die aarde wees, in die weste en die ooste, in die noorde en die suide. Oor die hele wêreld sal dit met mense goed gaan omdat hulle deel van jou en jou nageslag is.
15 Onthou een ding, Jakob: Ek is by jou. Ek gaan saam met jou waar jy ook al gaan. Eendag sal Ek jou weer na hierdie plek en hierdie land terugbring. Ek sal jou nie los voordat Ek al my beloftes aan jou waar gemaak het nie.”
16 Jakob het wakker geskrik en verdwaas om hom rondgekyk. Hy sê toe: “Die Here is op hierdie plek. Hy bly hier en ek het dit nie eens geweet nie.”