9 Satan het die Here geantwoord: “Ja, Job dien U, maar nie om dowe neute nie. Hy wil iets daaruit kry.
10 U het hom en sy huisgesin en alles wat hy het nog altyd beskerm. U sorg dat hy ’n sukses maak van alles wat hy doen. Sy rykdom word net meer en meer.
11 Maar waag dit net om aan sy goed te vat en kyk wat sal gebeur. Hy sal U in u gesig slegsê!”
12 Die Here het toe vir Satan gesê: “Dit is reg so, jy kan met sy goed maak net wat jy wil. Maar van Job hou jy jou hande af!” Die Satan het toe van die Here af weggegaan.
13 Op ’n dag was Job se kinders weer bymekaar in die oudste seun se huis. Hulle het saam geëet en wyn gedrink.
14 Terwyl hulle besig was om so saam te kuier, het ’n boodskapper by Job se huis aangekom. Hy het gesê: “Ons was besig om die land met osse te ploeg. Die donkies het daar by ons gestaan en wei.
15 Die volgende oomblik het die Sabeërs op ons toegesak. Hulle het die diere gesteel en die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat weggekom het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.”