1 Job het gereageer op wat Elifas gesê het en hom geantwoord:
2 “Ek het al hierdie goed wat julle sê, al baie gehoor. Julle is maar slegte troosters.
3 Wanneer gaan julle end kry met julle sinlose gebabbel? Maak my woorde julle siek dat julle voel julle moet antwoord?
4 Ek sou vir julle dieselfde antwoorde kon gee as julle in my plek was. Ek sou julle ook kon kritiseer en die kop oor julle skud.
5 Maar dit is nie wat ek sou doen nie. Ek sou eerder probeer het om goed te sê wat julle kon help. Ek sou iets wou sê om julle pyn ligter te maak.
6 My gepraat het in elk geval nie my pyn weggevat nie. Maar dit help ook nie ek sê niks nie, die pyn bly.”
7 Job het verder gesê: “Ja, die Here het my uitgemergel en my gesin verwoes.
8 Noudat Hy met my klaar is, is ek net vel en been. Mense dink my toestand is ’n bewys dat ek skuldig moet wees.
9 My liggaam is in hierdie toestand omdat Hy baie kwaad is vir my. Hy kan my nie vat nie! Hy kners op sy tande vir my en kyk reg deur my.
10 Mense drom om my saam en koggel en lag vir my. Hulle dink so min van my dat hulle my sommer deur die gesig slaan.
11 God laat my aan die genade van slegte mense oor. Ek is aan hierdie mense uitgelewer.
12 Ek het rustig my eie gang gegaan, maar Hy het dit kom verbreek. Hy het my aan my nek gegryp en my neergegooi. Dit het vir my gevoel ek breek in stukkies. Toe het Hy my gevat en my sy teiken gemaak.
13 Dit was of sy pyle oral by my verbygevlieg het. Die pyle het my niere deurboor en my gal het op die grond uitgeloop. Hy het niks vir my gevoel nie.
14 Hy het my aanhoudend gewond en op my afgestorm soos ’n soldaat wat ’n vyand aanval.
15 Hier sit ek soos iemand wat oor ’n dooie rou. Platgeslaan! Ek het klere aan wat van sak gemaak is en ek sit in die stof.
16 My gesig is rooi gehuil en daar is swart kringe om my oë.
17 Ek is nie skuldig aan enige geweld nie. Daar is net mooi niks met my gebede verkeerd nie.”
18 Job het nog gepraat en gesê: “My bloed op die grond bewys dat ek sleg behandel is. Die grond moet dit nie wegsteek nie. Ek skreeu oor die onreg teen my. Moenie dat my geskreeu stilgemaak word nie.
19 Op hierdie oomblik het ek iemand in die hemel wat in my guns getuig. Hy behartig my saak daar en praat namens my.
20 My vriende spot met my; daarom huil ek liewer by God.
21 Ek wens iemand wil namens my by God pleit. Dit moet iemand wees wat dit sal doen soos ’n mens dit vir ’n vriend sal doen.
22 Binnekort moet ek na ’n plek gaan waarvandaan ek nie weer gaan terugkom nie.”