Job 10 DB

Job kla by God

1 Job het gesê: “Ek haat my lewe, ek sien nie kans om so aan te gaan nie. Daarom gaan ek nou presies sê wat my pla. Ek is bitter ontevrede.

2 Ek gaan vir die Here sê: Moenie my net straf nie. Sê vir my waaroor U my aankla.

3 Dink U dat dit reg is om my so swaar te laat kry? Hoekom dink U so min van my? U het my tog self gemaak. Aan die ander kant is U so tevrede met die dinge wat die slegte mense doen. Ek verstaan dit nie mooi nie.

4 Is u oë maar net soos ’n gewone mens s’n? Dit lyk of U na dinge kyk soos mense daarna kyk.

5 U lewe is mos nie so kort soos ’n mens s’n nie.

6 Hoekom soek U dan so hard na die foute wat ek gemaak het? Hoekom probeer U uitvind wat ek verkeerd gedoen het?

7 U weet ek is onskuldig. Maar daar is niemand wat my uit u mag kan red nie.

8 “U het my met u hande gemaak en my ’n vorm gegee. Maar nou draai U om en vernietig my weer.

9 Onthou U dat U my van klei gemaak het? Gaan U my nou weer net stof maak?

10 U was daarvoor verantwoordelik dat my lewe begin het. Dit is ook U wat my in my ma laat groei het.

11 U het my aanmekaargesit. Eers het U my bene en senings aanmekaargebind. Daarna het U dit met vleis en met vel oorgetrek.

12 U het vir my lewe gegee. U liefde is ook altyd daar. Dit is nie een dag op en die ander dag af nie. Omdat U my liefhet, het U my nog nooit in die steek gelaat nie. U sorg het gemaak dat ek nog kon aangaan met my lewe.

13 “Maar ek besef nou dat U nog altyd geheime planne gehad het.

14 U het my dopgehou en geweet van elke verkeerde ding wat ek gedoen het. U plan was om my nie daarmee te laat wegkom nie.

15 As ek daaraan skuldig was dat ek slegte dinge gedoen het, verdien ek al die ellende. Maar ek is onskuldig en tog kan ek nie my kop optel nie. Dit is omdat ek voel dat ek verskriklik verneder is en dit baie sleg met my gaan.

16 En as ek dit tog sou regkry om my kop op te tel, sal U my jag soos ’n leeu. U sal net weer u geweldige krag teen my gebruik.

17 U sal ook net weer nuwe goed teen my inbring. U frustrasie met my bou net meer en meer op. Daar is gedurig nuwe ellendes wat my tref.

18 “Hoekom het U toegelaat dat ek gebore word? Ek moes dood gewees het voordat enigiemand my gesien het.

19 Dan sou dit gewees het of ek nooit eens bestaan het nie. Hulle sou my sommer reguit van my geboorte na my graf toe kon dra.

20 Ek het nie meer baie tyd oor om te lewe nie. Los my net ’n bietjie in vrede. Vat net die aandag van my af weg sodat ek ’n tydjie kan hê wat ek kan geniet.

21 Ek wil graag ’n slag bly wees voordat ek na ’n land gaan waarvandaan ek nooit sal terugkom nie. Dit is ’n land wat stikdonker is.

22 Dit is ’n pikdonker land. Alles is deurmekaar daar. Dit is chaoties! Selfs die lig is daar donker.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42