Job 4 DB

Elifas reageer

1 Toe het Elifas, wat van Teman af kom, Job geantwoord:

2 “Sal jy geduldig met my wees en my toelaat om te praat? ’n Mens kan nie eintlik jou mond hou nie, weet jy!

3 Jy het self al baie mense geleer en reggehelp. Jy het ook al mense wat moedeloos was, gehelp om weer moed te skep.

4 Jy het ook mense wat wou gaan lê, aangemoedig om vas te byt. Dié wat gevoel het dat hulle knieë onder hulle knak, het jy gehelp om nuwe energie te kry en aan te gaan.

5 Maar noudat die probleme na jou kant toe gekom het, kan jy dit nie verdra nie. Noudat dit jou raak, is jy platgeslaan.

6 Gee jou geloof in die Here nie vir jou die vertroue wat jy nodig het nie? Jy het altyd reg gelewe omdat jy die Here eer. Dit behoort mos vir jou hoop te gee.”

7 Elifas het verder gesê: “Dink ’n bietjie hieraan: Is daar enigiemand wat onskuldig was en ondergegaan het? Noem vir my ’n geval waar mense doodgegaan het wat reg geleef het.

8 Wat ek in die lewe geleer het, is dat mense wat verkeerde dinge beplan en moeilikheid maak, dit net so sal terugkry.

9 As God in sy woede sy asem oor hulle uitblaas, is dit verby met hulle. Hulle gaan net so dood!

10 Al brul hierdie mense soos wrede leeus, sal hulle tande gebreek word.

11 Hierdie mense wat so verkeerd doen, sal soos leeus wees wat nie ’n prooi kry om dood te maak nie. Hulle sal van die honger doodgaan en hulle kleintjies sal alleen agterbly.”

12 Verder het Elifas gesê: “Iemand het iets in die geheim in my oor gefluister.

13 Dit het in die nag gebeur toe almal al geslaap het. Dit was soos ’n gesig wat ek gesien het.

14 Angs het my beetgepak. Ek het geskud en gebewe so bang was ek.

15 Iets soos wind of ’n gees het liggies voor my gesig verbygegaan. Dit het my hare laat regop staan.

16 Dit het later opgehou, maar ek kon nie uitmaak wie dit was nie. Daar was net ’n gedaante voor my. In die stilte het ek ’n stem gehoor wat sê:

17 ‘Kan ’n gewone mens ooit regtig alles reg doen in die oë van die Here? Of kan ’n mens ooit sonder enige foute wees voor sy Maker?

18 Die Here kan nie eers sy eie werkers vertrou nie. Hy sien selfs die foute raak wat sy engele maak.

19 Hoeveel minder kan Hy mense vertrou wat van klei gemaak is! En klei is eintlik niks anders as stof nie. Hulle kan soos motte platgedruk word.

20 Hulle kan in die môre nog springlewendig wees, maar teen die aand se kant dood wees. Niemand sal hulle eers mis nie.

21 So ’n mens wat doodgaan, is soos ’n tent wat platval as die toue uitgeruk word. En dan gaan hulle dood sonder dat hulle insig en kennis kon kry.’”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42