1 Job het gereageer op wat Bildad gesê het. Hy het gesê:
2 “Hoe lank sal julle my nog pynig en uitmekaarskeur met julle praatjies?
3 Dit is al die soveelste keer dat julle my beledig. Julle behoort julle te skaam dat julle my so sleg behandel.
4 En al het ek verkeerd gedoen, bly dit nog steeds my probleem.
5 Julle dink julle is beter as ek. Julle redeneer dat die toestand waarin ek is, dit bewys.
6 Maar dit is God wat my nie reg behandel nie. Dit is Hy wat my in hierdie omstandighede vasgevang hou.
7 “Ek roep dat iemand my moet kom help, maar niemand hoor my nie. Ek kla en protesteer, maar niemand help my nie. Ek word nie regverdig behandel nie.
8 Die Here het my pad toegestop sodat ek nie kan aangaan nie. Hy maak die pad vorentoe vir my donker.
9 Mense het eers baie van my gedink en my met respek behandel. Maar die Here het dit van my af weggevat.
10 Waar Hy kon, het Hy my afgetakel. Dit is klaar met my! Alle hoop wat ek gehad het, het Hy doodgemaak.
11 Die Here is woedend kwaad vir my. Hy maak asof ek sy vyand is.
12 Die lyding wat ek deurmaak, is soos ’n oorlog teen my. Die Here stuur die probleme soos soldate teen my. Hulle grawe hulle in teen my en omsingel my.
13 “Die Here het my broers van my af weggedryf en my vriende vreemdelinge vir my gemaak.
14 My familie en bekendes het my in die steek gelaat en van my vergeet.
15 My huismense en my vroulike werkers maak of ek ’n vreemdeling is. Hulle maak of ek nie daar hoort nie.
16 Ek roep my werker, maar hy ignoreer my. Ek smeek, maar dit help nie.
17 My vrou kan my slegte asem nie uitstaan nie. My broers kan my nie verdra nie. Hulle walg hulle vir my.
18 Selfs klein kindertjies dink niks van my nie. As ek probeer opstaan, spot hulle met my.
19 My beste vriende kan my nie verdra nie. Selfs van die mense wat ek die meeste liefhet, het teen my gedraai.
20 Ek is nou net vel en been. Ek leef amper nie eers meer nie.”
21 Job het gepleit: “Julle is my vriende, wees net ’n bietjie geduldig met my. Moenie kras met my werk nie. Die Here het my hard geslaan.
22 Hoekom vervolg julle my nou net soos God maak? Waarom los julle my nie liewer uit nie?
23 “Ag, hoe wens ek dat alles wat ek sê in ’n boek opgeskryf kan word.
24 Ek wens dat my woorde met ’n ysterbeitel in klip uitgekap en met lood opgevul kan word.”
25 Job het gesê: “Ek weet dat Hy wat my kan verlos, lewe. Uiteindelik sal Hy op die aarde kom staan.
26 Selfs al is my liggaam besig om agteruit te gaan, weet ek dat ek eendag die Here sal sien.
27 Ek sal Hom self sien, niemand anders nie. Ek sal Hom met my eie oë sien. Die gedagte daaraan is amper te veel vir my om te hanteer. Dit oorweldig my!
28 “Hoe durf julle my vervolg en sê dat die oorsaak van die probleem by my lê?
29 Miskien moet julle ’n bietjie versigtig wees met julle houding; God kan julle dalk ook met die dood straf. As dit gebeur, sal julle weet daar is ’n oordeel en straf!”