1 Job het verder gepraat en gesê: “Maar nou word ek gespot deur mense wat jonger is as ek. Wie is hulle nou eintlik om dit te doen? Hulle pa’s is nie eens werd om saam met my skaaphonde die skape op te pas nie.
2 Hulle is nie vir my veel werd nie, want hulle het nie krag oor nie.
3 Hulle is maer en uitgeteer van die honger. Hulle het in die nagte in afgeleë en verlate plekke aan droë wortels gekou om aan die lewe te bly.
4 Hulle het growwe blare geëet en besemboswortels gebrand vir hitte.
5 Die mense het hulle oral weggejaag en vir hulle geskree asof hulle diewe is.
6 Nou bly hulle maar in die droë beddings van die stroompies en kruip weg in grotte en rotsskeure.
7 Daar waar hulle in die bosse was, het hulle geluide soos diere gemaak. Hulle het saam onder die bosse geskuil.
8 Hulle was dom mense wat nêrens ’n goeie naam gehad het nie. Die mense in die samelewing het hulle uitgestoot.
9 “Hulle seuns sing nou liedjies oor my om met my te spot. Hulle maak ’n gek van my.
10 Hulle dink minder as niks van my nie. Hulle kom nie eens naby my nie, behalwe as hulle op my kom spoeg.
11 God het my selfvertroue weggevat en my uitgelewer. Hulle maak nou met my net wat hulle wil.
12 Hierdie gemene spul mense val my sommer openlik aan. Hulle stamp my dat ek daar trek. Hulle bring allerhande goed teen my in om my te vernietig.
13 Hulle bring oral struikelblokke op my pad. Hulle kyk net hoe hulle my in die ellende kan dompel. Hulle weet ek het niemand om my te kom help nie.
14 Hulle breek deur mure en storm deur die rommel op my af.
15 Ek leef in vrees en bewing. Ek het geen waardigheid meer oor nie, dit het soos wind verdwyn. Dit het op alle gebiede met my baie goed gegaan, maar dit het verdwyn soos ’n wolk wat verbygaan.
16 “Nou is my hart stukkend. Ek huil baie. Ek voel elke dag hoe ek in ’n diep ellende wegsak.
17 In die nag het ek baie pyn in my bene. Dit voel of iets aanhoudend aan my bene kou en net nie ophou nie.
18 Met sy groot krag het God my aan my klere gegryp. Dit het gevoel of my kraag my wil verwurg.
19 Hy het my in die modder gegooi. Ek was van kop tot tone vol modder en as.”
20 Job het vir die Here gesê: “Here, ek roep na U dat U my moet help, maar U wil nie luister nie. Ek staan voor U, maar U steur U nie aan my nie.
21 U is eintlik baie wreed met my. U val my met mening aan.
22 U laat die wind my optel en die storm my ruk en pluk.
23 Ek weet U wil hê ek moet doodgaan. Dit is tog waarheen alle mense op pad is.
24 “’n Mens sal mos nie die rug draai vir iemand wat in die nood is en om hulp roep nie.
25 Ek het mos gehuil oor mense wat deur swaar tye gegaan het. Ek was ook baie ontsteld omdat die arm mense so swaarkry.
26 Daarom het ek gedink dat dit met my goed sal gaan, maar slegte dinge het met my gebeur. Ek het lig verwag, maar donkerte het op my neergesak.
27 Ek is baie ontsteld. Ek voel heeltyd onrustig. Elke dag is ’n dag van swaarkry.
28 My lewe is donker, dit is nie sonskyn nie. Ek staan oop en bloot voor mense en roep uit dat iemand my tog moet help.
29 Maar my geroep is nie veel meer werd as die gehuil van ’n jakkals of ’n volstruis nie.
30 Die vel oor my hele lyf het swart geword. Ek gloei van die koors.
31 My harp speel hartseer musiek en my fluit speel ’n tranerige lied.”