14 U het my dopgehou en geweet van elke verkeerde ding wat ek gedoen het. U plan was om my nie daarmee te laat wegkom nie.
15 As ek daaraan skuldig was dat ek slegte dinge gedoen het, verdien ek al die ellende. Maar ek is onskuldig en tog kan ek nie my kop optel nie. Dit is omdat ek voel dat ek verskriklik verneder is en dit baie sleg met my gaan.
16 En as ek dit tog sou regkry om my kop op te tel, sal U my jag soos ’n leeu. U sal net weer u geweldige krag teen my gebruik.
17 U sal ook net weer nuwe goed teen my inbring. U frustrasie met my bou net meer en meer op. Daar is gedurig nuwe ellendes wat my tref.
18 “Hoekom het U toegelaat dat ek gebore word? Ek moes dood gewees het voordat enigiemand my gesien het.
19 Dan sou dit gewees het of ek nooit eens bestaan het nie. Hulle sou my sommer reguit van my geboorte na my graf toe kon dra.
20 Ek het nie meer baie tyd oor om te lewe nie. Los my net ’n bietjie in vrede. Vat net die aandag van my af weg sodat ek ’n tydjie kan hê wat ek kan geniet.