1 Sofar, wat van Naäma af kom, het Job geantwoord en gesê:
2 “’n Mens moet iemand antwoord wat so baie te sê het. Al die gepraat is nie ’n bewys dat jy onskuldig is nie.
3 Moet ek stilbly terwyl jy aanhou met jou gebabbel? Iemand moet jou tog reghelp omdat jy met die Here spot. Jy behoort jou te skaam.
4 Jy is baie seker van jouself as jy sê: ‘Wat ek glo, is reg’ en: ‘Vir die Here is ek onskuldig.’
5 Ek wens God wil praat en vir jou sê wat Hy dink!
6 Ek wens Hy wil vir jou vertel wat die geheime van wysheid is. Ware wysheid is ingewikkeld; dit het meer as een kant. Dan sal jy insien dat God jou baie lig straf. Jy verdien eintlik om baie swaarder gestraf te word.