18 Wat ek ervaar het, het ander mense wat bekend is vir hulle kennis en insig ook al ervaar. So sê hulle. En hulle het weer by hulle ouers daarvan gehoor.
19 Hulle ouers was die mense vir wie hierdie land gegee was. Dit was nog voordat vreemde mense tussen hulle ingekom het.”
20 “Vir slegte mense is hulle hele lewe eintlik maar ’n pynlike ervaring. Solank hulle leef, sal ongevoelige mense hulle laat swaarkry.
21 Hulle leef in spanning, want hulle hoor van al die slegte dinge wat om hulle gebeur. Net as hulle dink dat dit nou rustig en goed gaan, oorval ’n aanvaller hulle.
22 Hulle is bang om in die donker uit te gaan, want hulle glo dat hulle nie sal terugkom nie. Hulle verwag dat iemand hulle gaan vermoor.
23 Hulle gaan rond op soek na kos en vra waar hulle dit gaan kry. Eintlik weet hulle dat daar moeilike tye vir hulle voorlê.
24 Die gedagte aan moeilike tye maak hulle baie bang. Hulle lewe doodbang en in angs. Dit is soos ’n koning se spanning net voor hy ’n vyand begin aanval.