1 Die Here het vir Moses gesê:
2 “Maak twee trompette van suiwer silwer en gebruik dit om die volk bymekaar te kry vir ’n vergadering of as teken dat hulle die kamp moet opbreek.
3 As albei die trompette gelyk blaas, moet die hele volk bymekaarkom vir ’n vergadering voor die ingang van die tent waar Ek aanbid word.
4 As net een van die trompette geblaas word, is dit ’n teken vir die leiers van die stamme om na jou toe te kom vir ’n vergadering.
5 As julle die trompet die eerste keer kort en hard blaas, moet die stamme wat aan die oostekant gekamp het, oppak en vertrek.
6 Wanneer die trompet die tweede keer kort en hard geblaas word, is dit tyd vir die stamme aan die suidekant om op te pak en te trek. Elke groep moet oppak en trek wanneer hulle die teken hoor wat spesiaal vir hulle bedoel is.
7 Om die volk vir ’n vergadering op te roep moet die trompette op ’n ander manier en toonhoogte geblaas word.
8 Net die priesters, Aäron se seuns en hulle kinders, mag die trompette blaas. Dit is ’n reël wat vir julle ganse nageslag moet geld.
9 Wanneer julle in julle land aankom en julle julle teen julle vyande moet verdedig, moet julle hard op hierdie trompette blaas om die volk vir oorlog op te roep. Dan sal Ek, die Here julle God, onthou dat julle my volk is en Ek sal julle van julle vyande red.
10 Julle moet ook die trompette blaas as julle bly is en iets het om te vier. Blaas hulle by julle jaarlikse feeste en aan die begin van elke nuwe maand. Blaas hulle as julle bly is oor julle brandoffers en julle eteoffers. Die trompette sal My daaraan herinner dat Ek in ’n ooreenkoms met julle vir julle gesê het: “Ek is die Here, Ek is julle God.”
11 Op ’n dag in die middel van die lente, twee jaar nadat die Israeliete uit Egipte uit weg is, het die wolk van die tabernakel af opgelig.
12 Die Israeliete het toe getrek van die Sinaiwoestyn af tot in die Paranwoestyn, waar die wolk weer tot stilstand gekom het.
13 Die Israeliete het getrek op die manier wat die Here vir Moses beveel het. Hulle het dit so gedoen:
14 heel voor het die afdelings onder leiding van die stam van Juda onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Amminadab se seun Nagson.
15 Suar se seun Netanel was in bevel van die afdeling van die stam van Issaskar,
16 en Gelon se seun Eliab was die leier van die afdeling van die stam van Sebulon.
17 Daarna is die tabernakel afgebreek. Toe kon die groep van Gerson en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek.
18 Die volgende groep wat vertrek het, was die afdelings onder leiding van die stam van Ruben. Hulle het onder hulle eie vlag getrek. Hulle leier was Sedeür se seun Elisur.
19 Suri-Saddai se seun Selumiël was in bevel van die afdeling van die stam van Simeon,
20 en Reüel se seun Eljasaf was die leier van die afdeling van die stam van Gad.
21 Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die voorwerpe gedra wat aan die Here se diens gewy is. Teen die tyd dat hulle by die volgende kampplek aangekom het, was die tabernakel gewoonlik reeds opgeslaan.
22 Net ná hulle het die afdelings onder leiding van die stam van Efraim onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Ammihud se seun Elisama.
23 Pedasur se seun Gamliël was in bevel van die afdeling van die stam van Manasse,
24 en Gidoni se seun Abidan oor die afdeling van die stam van Benjamin.
25 Die volgende groep wat vertrek het, was die afdelings onder leiding van die stam van Dan, ook onder hulle eie vlag. Hulle het die agterhoede van al die afdelings gevorm. Ammi-Saddai se seun Agiëser was die leier van hierdie afdeling.
26 Okran se seun Pagiël was die leier van die afdeling van die stam van Aser,
27 en Enan se seun Agira die leier van die afdeling van die stam van Naftali.
28 So het die Israeliete altyd getrek, afdeling vir afdeling.
29 Toe hulle wegtrek, het Moses vir sy swaer, Gobab, wat Reüel die Midianiet se seun was, gesê: “Ons is nou op pad na die land toe wat die Here vir ons beloof het. Kom saam met ons, dan deel jy in ons voorspoed, want die Here het wonderlike dinge vir ons belowe.”
30 Maar Gobab het geantwoord: “Nee dankie, ek dink ek gaan eerder terug na my eie land en familie toe.”
31 Maar Moses het nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie: “Moet ons nie nou alleen los nie. Jy ken die beste kampplekke in die woestyn, jy kan ons gids wees.
32 As jy saamkom, kan jy ook deel hê aan al die wonderlike dinge wat die Here vir ons gaan gee.”
33 So is die volk van die berg Sinai, die berg van die Here, af weg. Hulle het drie dae lank getrek met die verbondsark van die Here op die voorpunt van die volk om vir hulle te wys waar om te stop en te rus.
34 Elke dag wat hulle op pad was, het die wolk van die Here bokant hulle gebly.
35 Elke keer as die priesters met die verbondsark begin trek het, het Moses gesê: “Staan op, Here, jaag u vyande weg voor U! Laat almal wat U haat, voor U padgee!”
36 En elke keer as hulle by die kamp aangekom en die ark neergesit het, het Moses gesê: “Kom asseblief nou terug na die reuseskares van Israel toe, Here!”