1 In die lente van die tweede jaar na die uittog uit Egipte, terwyl hulle nog in die Sinaiwoestyn was, het die Here met Moses gepraat. Hy het vir hom gesê:
2 “Die Israeliete moet die paasfees op die regte tyd en op die regte manier vier;
3 teen skemer op die dag wat Ek bepaal het aan die begin van die lente. Doen dit presies soos Ek voorskryf.”
4 Moses het toe die Israeliete beveel om die paasfees te vier.
5 Hulle het dit aan die begin van die lente daar in die Sinaiwoestyn op die vasgestelde dag gedoen.
6 Daar was egter ’n klomp mense wat nie aan die paasfees kon deelneem nie, aangesien hulle iemand moes begrawe en aan ’n lyk geraak het. Hulle kon daarom nie aan godsdienstige aktiwiteite deelneem nie. Hulle het toe met Moses en Aäron gaan praat en vir hulle gesê:
7 “Ons weet ons is onrein om aan godsdienstige aktiwiteite deel te neem, want ons moes aan ’n dooie vat. Maar hoekom keer dit ons om saam met die res van die Israeliete hierdie offer aan die Here te bring?”
8 “Wag hier,” het Moses gesê, “ek moet eers hoor wat die Here daarvan dink.”
9 Die Here se antwoord hierop was:
10 “Sê vir die Israeliete: As een van julle of een van julle kinders onrein geword het omdat julle met ’n lyk in aanraking gekom het, of as iemand dalk op daardie stadium op reis is en nie die seremonie kan bywoon nie, mag hulle nog steeds die Here se paasfees vier.
11 Al wat moet gebeur, is dat hulle dit presies moet doen volgens al die voorskrifte, maar dan net ’n maand later. Hulle moet die paaslam eet saam met die brood wat sonder suurdeeg gebak is en die sous wat van bitter kruie gemaak is.
12 Hulle mag niks van die vleis vir die volgende môre oorhou nie en hulle mag ook nie ’n been van die paaslam breek nie. Hulle moet die voorskrifte vir die paasfees streng gehoorsaam.
13 Maar as iemand nie op reis is nie of nie godsdienstig onrein is nie en nogtans weier om die paasfees op die regte tyd te vier, moet so ’n persoon uit die gemeenskap uitgeskop word. Dan moet hy maar die gevolge van sy daad dra.
14 As daar iemand by julle bly wat nie ’n Israeliet is nie, maar wel die paasfees vir die Here wil vier, mag hy dit doen op voorwaarde dat die persoon al die voorskrifte nakom vir die viering van die paasfees, want dieselfde reëls geld vir almal.”
15 Die dag toe die tabernakel, die tent waar die Here aanbid word, vir die eerste keer opgeslaan is, het daar ’n wolk gekom wat die hele tent soos ’n seil toegemaak het. Die wolk het elke dag en elke nag daar bly hang. Die enigste verskil was net dat die wolk in die aand soos ’n vuur gelyk het.
16 Bedags was daar ’n wolk oor die tent en saans ’n vuurwolk.
17 Elke keer as die wolk van die tent af opgelig het, het die Israeliete kamp opgeslaan en agter die wolk aangetrek tot waar dit gaan staan het. Dan het hulle daar kamp opgeslaan.
18 Dit was die Here se manier om hulle op ’n plek te laat bly of hulle te laat trek. Hulle het op ’n plek gebly totdat die wolk van die tent af opgelig het.
19 Vir so lank as wat die wolk oor die tabernakel gebly het, het die volk daar bly kamp, al was dit ook hoe lank, want hulle het geweet dit is wat die Here wou hê.
20 Soms het dit gebeur dat die wolk net vir ’n paar dae op die tabernakel gebly het. Dan het hulle net vir dié rukkie daar gebly. Maar wat ook al die geval was, hulle het altyd op die Here se bevel getrek of gebly.
21 Ander kere weer het die wolk net een nag op ’n plek gebly en dan het hulle die volgende môre weer verder getrek. Dit het nie saak gemaak of dit net een dag was nie; as die wolk opgelig het, het hulle getrek.
22 Of dit nou twee dae, ’n maand of ’n jaar was wat die wolk bokant die tabernakel gebly het, het nie saak gemaak nie. Solank die wolk daar gebly het, het die Israeliete op die plek bly kamp. Maar die oomblik dat dit opgelig het, het hulle dadelik kamp opgeslaan en agterna getrek.
23 Hulle het net op die Here se bevel getrek en elke opdrag uitgevoer wat die Here vir Moses gegee het.