1 Hier volg ’n opsomming van die Israeliete se kampplekke nadat hulle onder Moses en Aäron se bevel uit Egipte getrek het.
2 Soos die Here vir Moses gesê het, moes hulle elke plek waar hulle gekamp het, se naam neerskryf. Die trek het so verloop:
3-4 Die Israeliete het die oggend na die heel eerste paasfees vroeg in die lente van die stad Rameses in Egipte af weggetrek. Die Egiptenaars was nog besig om hulle kinders te begrawe wat in die groot wonderwerk wat die Here daar gedoen het, dood is. Hulle kon niks anders doen nie as om maar net te kyk hoe die Israeliete wegtrek. Die Here het hulle laat wegtrek, want met die laaste wonder het Hy finaal al die gode van Egipte op hulle plek gesit.
5 Van Rameses af is hulle Sukkot toe waar hulle kamp opgeslaan het.
6 Hulle het Sukkot verlaat en tot by Etam op die rand van die woestyn getrek en daar kamp opgeslaan.
7 Van Etam af is hulle terug na Pi-Hagirot toe, regoor Baäl-Sefon, waar hulle by Migdol kamp opgeslaan het.
8 Hulle het die omgewing van Pi-Hagirot verlaat en deur die Rietsee na die woestyn toe getrek. Na drie dae se trek deur die Etamwoestyn het hulle by Mara aangekom en daar oorgebly.
9 Van Mara af is hulle Elim toe. Daar was twaalf fonteine en 70 palmbome, en hulle het daar gekamp.
10 Van Elim af is hulle na die Rietsee toe waar hulle weer kamp opgeslaan het.
11 Hulle het die Rietsee verlaat en later in die Sinwoestyn kamp opgeslaan.
12 Hiervandaan is hulle na Dofka toe.
13 Daarna is hulle na Alus toe en van daar af
14 na Refidim toe. Dit is waar daar nie drinkwater vir die volk was nie.
15 Hulle het toe van Refidim af na die Sinaiwoestyn getrek.
16 Hierna het die Israeliete op die volgende plekke oorgebly: Kibrot-Taäwa,
17 Gaserot,
18 Ritma,
19 Rimmon-Peres,
20 Libna,
21 Rissa,
22 Kehelata,
23 Har-Sefer,
24 Garada,
25 Makhelot,
26 Tagat,
27 Terag,
28 Mitka,
29 Gasmona,
30 Moserot,
31 Bene-Jaäkan,
32 Gor-Gidgad,
33 Jotbata,
34 Abrona,
35 Esjon-Geber,
36 Kades in die Sinwoestyn,
37 en die berg Hor aan die grens van Edom.
38 In opdrag van die Here het die priester Aäron teen Hor uitgeklim en daar op die eerste van die vyfde maand gesterf, 40 jaar nadat die Israeliete uit Egipte weg is.
39 Aäron was toe 123 jaar oud.
40 Die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Negev, die suidelike woestyngebied van Kanaän, gewoon het, het gehoor dat die Israeliete aan die kom is.
41 Die Israeliete het Hor verlaat en by Salmona kamp opgeslaan.
42 Van daar af het hulle by die volgende plekke kamp opgeslaan: Punon,
43 Obot,
44 Ije-Abarim aan die grens van Moab,
45 Dibon-Gad,
46 Almon-Diblatajim,
47 die Abarimberge regoor Nebo
48 en die Moabsvlakte langs die Jordaanrivier regoor Jerigo.
49 Daar langs die Jordaanrivier, tussen Bet-Jesimot en Abel-Sittim, het hulle kamp opgeslaan.
50 Daar in die vlakte van Moab aan die oorkant van die Jordaanrivier regoor Jerigo het die Here vir Moses die volgende opdragte gegee:
51 “Sê vir die Israeliete: As julle oor die Jordaanrivier trek in die land Kanaän in,
52 moet julle al die inwoners van die land wegjaag. Julle moet al hulle uitgesnyde en gegote afgode vernietig en hulle offerplekke verwoes.
53 Neem die land in en gaan bly daar, want Ek gee dit vir julle.
54 Julle moet die land verdeel deur die stamme volgens hulle getalle te laat lootjies trek. Die groter stamme moet meer grond kry as die kleiner stamme. Hierdie verdeling is finaal. Die verskillende stamme moet elkeen op hulle eie grond bly.
55 Wees gewaarsku, as julle nie al die oorspronklike inwoners van hierdie gebied uit die land uit verdryf nie, gaan hulle vir julle groot probleme veroorsaak. Hulle sal net so irriterend wees soos ’n splinter in ’n mens se oog of ’n doring op ’n ongemaklike plek. Hulle sal julle in julle eie land aanval en teen julle oorlog maak.
56 En dan straf Ek julle soos Ek van plan was om hulle te straf!”