1 Die Here het vir Moses nog opdragte gegee om vir die Israeliete te gee:
2-3 “As julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee om in te bly en julle wil brandoffers en slagoffers vir My bring, is daar sekere voorwaardes wat julle moet nakom. So ’n offer mag ’n vrywillige offer wees, of ’n offer omdat iemand ’n belofte aan My gemaak het, of selfs ’n offer wat julle by een van die feeste vir My wil bring. So ’n offer moet dan ’n dier uit julle kuddes wees, ’n bees of een van julle kleinvee. Dit is al wat Ek sal aanvaar.
4 Die persoon wat so ’n offer vir My bring, moet daarmee saam ook vir My ’n graanoffer bring, wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel, gemeng met ’n liter olyfolie.
5 Saam met elke lam wat as ’n brandoffer of ’n slagoffer aan My geoffer word, moet julle ook ’n liter wyn as drankoffer saambring.
6 “As dit ’n ram is wat geoffer word, moet die graanoffer bestaan uit drie kilogram meel gemeng met een en ’n half liter olyfolie,
7 en een en ’n half liter wyn wat as ’n drankoffer saamgebring moet word. Dan sal die offer se geur vir My aanvaarbaar wees.
8 “As dit ’n jong bul is wat as brandoffer of ’n ander diereoffer vir My aangebied word om ’n belofte na te kom wat aan My gemaak is, of as ’n eteoffer,
9 dan moet die graanoffer wat daarmee saamgaan, bestaan uit vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olyfolie.
10 Bring ook twee liter wyn vir die drankoffer saam. Ek hou van so ’n vuuroffer se geur.
11 “Elke bul en elke ram en elke skaap- of bokram moet aangebied word soos Ek nou vir julle voorgeskryf het vir die offer.
12 As daar meer as een dier geoffer word, moet die ander offers van meel en wyn ook volgens die aantal diere vermeerder word.
13 Elke Israeliet is verplig om hierdie offer volgens my voorskrifte aan My te bring. Dan is dit vir My aanvaarbaar.
14 As daar iemand is wat van ’n ander volk is en by julle bly, of dit nou tydelik of permanent is, en daardie persoon wil ook ’n offer bring wat vir die Here aanvaarbaar is, geld dieselfde reëls.
15-16 Vir almal wat ’n offer wil bring, geld presies dieselfde reëls. Hierdie reëls bly ook in die toekoms geldig vir Israeliete en die persone van ’n ander afkoms wat by julle bly.”
17 Die Here het verder vir Moses gesê:
18 “As julle in die land Kanaän aankom
19 en julle eet brood van die graan wat julle daar geoes het, moet julle onthou om vir die Here ’n offer te bring.
20 Van die heel eerste growwe meel wat julle maal om brood te bak moet julle vir die Here ’n brood bak as ’n spesiale geskenk van dank vir die oes wat Hy julle gegee het. Dit is julle offer wat van die dorsvloer af kom.
21 Hierdie gebruik om die eerste growwe meel van die oes aan My te offer moet ook in die toekoms deur julle kinders nagekom word.”
22 “Dit kan dalk gebeur dat een van julle ’n fout maak en nie al hierdie reëls nakom wat die Here vir Moses gegee het nie.
23 Of dat julle kinders dalk in die toekoms per ongeluk nie alles doen soos die Here dit wil hê nie.
24 Dan moet die hele volk bymekaarkom en ’n jong bul as ’n brandoffer en ’n bokram aan die Here offer om te wys hulle is jammer oor hulle sondes. Hulle moet dit offer saam met die gewone graan- en drankoffers. As hulle dit doen, sal die Here hulle sondes vergewe.
25 Verder moet die priester ook namens die volk by die Here verskoning vra vir wat hulle verkeerd gedoen het. Dan sal die Here hulle vergewe omdat hulle nie moedswillig die sonde gedoen het nie en omdat hulle die offers gebring het wat die Here voorskryf.
26 Almal wat verkeerd gedoen het, sal vir hierdie fout vergewe word, Israeliete sowel as persone van ander afkoms wat by hulle bly.
27 “As dit net een mens is wat onwetend ’n sonde gedoen het, moet die persoon ’n jaaroud bokooi bring as teken van berou.
28 Die priester moet namens die persoon vir die Here om verskoning vra, waarna die Here die persoon sal vergewe.
29 Dit is een en dieselfde wet wat geld vir die Israeliete sowel as die persone van ander afkoms wat by hulle bly.
30 “Indien iemand moedswillig sonde doen, het hy die Here se eer aangetas. Dit maak nie saak of die persoon ’n Israeliet is of ’n persoon van ’n ander afkoms wat by die Israeliete bly nie, maar dié persoon mag dan nie meer as deel van die volk van die Here beskou word nie. Die gemeenskap moet die rug vir so ’n persoon draai.
31 Omdat so ’n persoon die Here verwerp het en moedswillig sy reëls oortree het, moet hy die gevolge van sy daad dra: hy moet doodgemaak word.”
32 Op ’n dag terwyl die Israeliete weer in die woestyn was, het hulle agtergekom dat ’n sekere man op die sabbat vuurmaakhout bymekaargemaak het.
33 Die mense wat hom op heterdaad betrap het, het hom na Moses, Aäron en die res van die volk toe gevat om oor sy lot te besluit.
34 Omdat niemand heeltemal seker was wat om met hom te doen nie, het hulle hom opgesluit gehou.
35 Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet doodgemaak word! Vat hom uit die kamp uit en laat die volk hom met klippe doodgooi.”
36 Hulle het hom toe uit die kamp uitgevat en hom met klippe doodgegooi soos die Here vir Moses gesê het.
37 Die Here het vir Moses nog ’n opdrag gegee:
38 “Sê vir die Israeliete hulle moet vir hulle tosseltjies maak. Hulle moet hierdie tosseltjies met blou gare aan hulle klere se some vaswerk. Hulle moet dit ook in die toekoms bly doen.
39 Hierdie tosseltjies moet julle aan al die Here se opdragte herinner. Elke keer as julle dit sien, sal julle aan My en my voorskrifte dink. Dan sal julle nie in die versoeking kom om My te verlaat en agter julle eie begeertes aan te loop nie.
40 Op dié manier sal julle gereeld aan my opdragte herinner word. Julle sal weet dat julle totaal en al aan My behoort en vir my diens opsy gesit is.
41 Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte uit laat trek het sodat Ek alleen julle God kan wees. Ja, Ek is die Here julle God!”