1-2 Daar was ’n man met die naam Selofgad. Hy was ’n seun van Gefer, die seun van Gilead, die seun van Makir, die seun van Manasse, die seun van Josef. Selofgad het vyf dogters gehad. Hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.Op ’n dag het hierdie dogters na Moses en Eleasar toe gekom waar hulle saam met die leiers van die volk en al die ander Israeliete by die tent van die Here in ’n vergadering was.
3 “Ons pa,” het hulle gesê, “is in die woestyn dood sonder dat hy ooit seuns gehad het. Hy was nie een van Korag se trawante wat teen die Here in opstand gekom het nie. Hy het as gevolg van sy eie sonde gesterf.
4 Dit is mos nie regverdig dat ons pa se naam uit sy familie verdwyn net omdat hy nie seuns gehad het nie. Daarom vra ons dat u vir ons sy grond tussen sy familie sal gee wat hy moes kry.”
5 Moses het die saak aan die Here gestel,
6 en die Here het vir hom gesê:
7 “Selofgad se dogters is reg, jy moet vir hulle grond gee tussen hulle familie. Hulle moet die deel erf wat hulle pa sou kry.
8 Gaan sê ook vir die Israeliete: As iemand doodgaan sonder dat hy seuns het, behoort sy grond aan sy dogters.
9 As hy nie dogters het nie, moet die grond na sy broers toe gaan.
10 As hy nie broers het nie, moet die grond na sy ooms toe gaan aan sy pa se kant van die familie.
11 As sy pa nie broers gehad het nie, gaan die grond na sy naaste bloedfamilie toe. Hierdie reëling wat Ek vir Moses gegee het, geld vir altyd.”
12 Die Here het vir Moses gesê: “Klim die Abarimberg uit tot bo. Gaan staan daar en kyk na die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee.
13 As jy die land gesien het, sal jy ook doodgaan net soos jou broer, Aäron,
14 want julle twee het mos nie na My geluister daar by Meriba in die Sinwoestyn nie. Dit was mos daar naby Kades dat die volk met julle baklei het, en julle julle teen My verset het.”
15 Toe sê Moses vir die Here:
16-17 “Here, U is die God van almal wat lewe. Ek pleit by U, stel tog net ’n leier aan oor dié klomp mense om hulle in die nuwe land in te lei en hulle te help as hulle moet veg. Anders sal hulle soos ’n trop skape sonder ’n herder wees.”
18 Toe sê die Here vir Moses: “Laat Josua die seun van Nun na jou toe kom, want Ek het hom toegerus om hierdie werk te kan doen. Sit jou hande op sy kop
19 en laat Eleasar en die hele volk hiernatoe kom sodat hulle dit kan sien. Sê dan daar voor hulle almal vir hom wat sy taak gaan wees, en stel hom as jou opvolger en as die volk se nuwe leier aan.
20 Dra ’n deel van die gesag wat Ek aan jou gegee het aan hom oor sodat die volk sal besef hulle moet na Josua luister.
21 Wanneer hy my raad en hulp nodig het, moet hy na die priester Eleasar toe gaan en hy sal my raadpleeg met die urim, ’n hulpmiddel wat Ek vir die priester gegee het om vir die volk te sê wat Ek wil hê. As Ek so met Eleasar gepraat het, moet Josua en die volk na hom luister.”
22 Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het Josua voor die priester Eleasar en die hele volk laat staan,
23 sy hande op sy kop gesit en hom as sy opvolger aangestel, presies soos die Here gesê het.