1 Die Here het vir Moses gesê:
2 “Sê vir die Israeliete om op die tye wat Ek bepaal het, offers en vuuroffers vir My te bring. Dit sal vir My aanvaarbaar en goed wees.
3 “Hierdie is dan die vuuroffers wat hulle vir die Here moet bring: Daar is ’n brandoffer wat elke dag vir die Here gebring moet word. Hierdie offer bestaan uit twee jong rammetjies van ’n jaar oud. Hulle mag nie iewers ’n liggaamsgebrek hê nie.
4 Offer een in die oggend en een in die aand.
5 Saam met hierdie offer moet daar ook ’n graanoffer gebring word wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel wat met ’n liter suiwer olyfolie aangemaak is.
6 Dit is die brandoffer wat die Here reeds by die berg Sinai ingestel het en waarvan Hy hou.
7 Die drankoffer wat by hierdie offer hoort, is ’n liter wyn wat oor die altaar uitgegooi word.
8 Die tweede lam moet in die aand geoffer word met presies dieselfde graan- en drankoffers as dié van die oggend. Dit is ’n vuuroffer waarvan die Here hou.”
9 “Op die sabbat, die sewende dag van die week waarop almal moet rus, moet daar twee jaaroud rammetjies geoffer word. Hulle moet gesond wees en niks makeer nie. Saam met hulle is die graanoffer van drie kilogram meel met olyfolie gemeng en ’n drankoffer wat daarby hoort.
10 Hierdie sabbatsoffer is ’n ekstra offer wat op die sabbat gebring moet word saam met die gereelde daaglikse offer.”
11 “Op die eerste dag van die maand moet julle vir die Here die volgende brandoffer bring: twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud rammetjies wat niks makeer nie.
12 Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, offer, saam met elke ram twee kilogram
13 en saam met elke lam een kilogram. Dit is ’n brandoffer wat met vuur verbrand word. Dit is vir die Here ’n offer waarvan Hy hou.
14 Die drankoffer wat hierby hoort, is twee liter wyn saam met elke bul, een en ’n half liter saam met die ram en een liter elk vir elke lam. Hierdie brandoffer moet elke maand van die jaar gebring word.
15 Bo en behalwe hierdie offer moet die daaglikse brandoffer met die drankoffer wat daarmee saamgaan, steeds gebring word. Op die eerste dag van die maand moet daar ook ’n bokram as ’n offer vir die volk se sondes vir die Here geoffer word.”
16 “Die paasfees, wat op die veertiende van die eerste maand gehou word, is ’n fees wat gehou word om die Here te eer.
17 Op die volgende dag begin die fees van die brood wat sonder suurdeeg gemaak word. Die fees hou sewe dae lank aan en vir hierdie sewe dae mag julle net brood sonder suurdeeg eet.
18 Op die eerste dag van die fees moet julle vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op dié dag mag niemand werk nie.
19 Dan moet julle vir die Here ’n vuuroffer bring. Dit moet ’n brandoffer wees van twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies wat heeltemal gesond is.
20 Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram hiervan
21 en saam met elke lam een kilogram hiervan.
22 Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde.
23 Die gereelde oggendbrandoffers moet nog steeds gebring word bo en behalwe hierdie offer.
24 Julle moet ook vir die volle sewe dae ’n kosoffer bring wat vir die Here verbrand kan word, want dit is die offers waarvan Hy hou en wat Hy aanvaar. Hierdie offers word geoffer bo en behalwe die gereelde brandoffer en die drankoffer.
25 Op die sewende dag van die fees moet julle weer vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op daardie dag mag niemand werk nie.”
26 “Op die eerste dag van die oesfees, sewe weke na paasfees, moet julle ’n graanoffer uit die nuwe oes bring om vir die Here dankie te sê vir die oes. Dan moet julle ’n spesiale lofprysingsgeleentheid hou. Op daardie dag mag niemand werk nie.
27 Dan moet julle vir die Here ’n spesiale brandoffer bring waarvan Hy hou: twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies.
28 Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram
29 en saam met elke lam een kilogram.
30 Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde.
31 Bo en behalwe hierdie offer moet die daaglikse brandoffer en die graanoffer steeds gebring word. Sorg ook dat die diere wat geoffer word, niks makeer nie.”